REGVERDIGING

REGVERDIGING beteken oorspronklik om iemand regverdig te verklaar of vry te spreek. As sodanig kom dit uit ’n juridiese of forensiese konteks. Die beste beeld om die saak mee te verduidelik, is ’n hofsitting. Die Regter op die regbank is God, die Regverdige. Ons staan in die beskuldigdebank, aangekla daarvan dat ons in sonde* al die gebooie van God oortree het. Almal verwag dat die uitspraak niks anders as “skuldig!” kan wees nie. Maar dan gebeur die onverwagse: ’n Advokaat (Jesus* Chris­tus*) tree na vore en sê Hy sal die skuld betaal. Op grond daarvan lewer die Regter uitspraak dat ons vrygespreek word.

Die regverdiging is dus ’n genadegawe van God, sonder enige verdienste van ons kant. Dit geskied nie op grond van iets in onsself (“analities”) nie, maar op grond van die volkome soenverdienste van Jesus Christus wat aan ons toegereken word (“sinteties”). Dié gawe kan slegs deur die geloof* ontvang en toegeëien word (vgl Rom 3:21-30).

Martin Luther* het gesê dat die regverdi­ging deur die geloof alleen (sola fide) die artikel is waarmee die kerk* staan of val. Die gerefor­meerde* beskouing daarvan word bewoord in die Nederlandse Geloofsbely­denis*, Artikel 22 en 23, en die Heidelbergse Kategismus*, Sondag 23.

Sidebar