REHOBOTH-BASTERS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF

REHOBOTH-BASTERS EN DIE CHRISTELIKE GELOOF. Die Basterge­meen­skap het in die 18de eeu in die Kaap ontstaan weens ondertrouing van Europese setlaars en Khoekhoen* of slawe*. Gert Kloete is ná die dood van sy vrou met ’n Nama*-vrou (Khoekhoen) getroud (1750). Hulle seun Jasper is deur sy broers onterf omdat hy van “gemengde bloed” was. Ná Jasper se huwelik het hy noordwaarts verskuif. Saam met ander families van “ge­mengde bloed” het hulle die “Basterge­meenskap” van Komaggas (naby Steinkopf) begin.

Die Basters was van die begin af ’n Christelike gemeenskap. Ná 1830 is ’n kerk* vir die Basters gevestig weens die vriendskap tus­sen sendeling* Heinrich Schmelen (Londense Sendinggenootskap*) en die Kloetes. Die Bas­ters se “Gemeenteorde­ning” is in 1857 deur die Kaapse regering erken. In 1866 het die Rynse sendeling Friedrich Heidmann op De Tuin pastor van die Baster-gemeente geword.

Die Kaapse regering het die Basters in 1865 van hulle grond in Komaggas verwyder weens die vestiging daar van al hoe meer wit boere. In 1868, onder die leierskap van kaptein Hermanus van Wyk en sende­ling Heidmann, het die Basters noord getrek en in 1870 die Rehoboth-gebied van die Nama-kaptein, Willem Swartbooi, gehuur. Rehoboth het sy naam in 1844 van die Rynse sendelinge Klein­schmidt, Bam en Rath ontvang toe hulle die oorspronklike “Anis” tot Rehoboth herdoop het. In 1872 het kaptein Abraham Swartbooi die Rehoboth-gebied aan die Basters verkoop, wat toe as “Baster-republiek” regeer is volgens die “Voorvaderlike Wette”.

Die Rynse gemeente* van Rehoboth het deur die jare ontwikkel tot drie gemeentes: die Damara-gemeente (pastor Goagoseb, 1949), die Baster-gemeente (pastor Jakobus Beukes, 1953) en die Nama-gemeente (pastor Xamseb, 1954). Met die stigting van die selfstandige sinode* van die Evangeliese Lutherse Kerk in 1957, het ’n groep ontevrede lidmate verkies om aan te bly in die Rynse Kerk en die Evangeliese Sen­dingkerk.

Vir verdere lees: J Bauman 1967. Van Sending tot Kerk, 18421967. Karibib: ELK in SWA. GL Buys en SVV Nambala 2003. History of the Church in NamibiaAn Introduction. Windhoek: Gamsberg Mac­millan. JS Malan 1995. Peoples of Namibia. Wingate Park: Rhino Publishers.

Sidebar