REIN EN ONREIN

REIN EN ONREIN. Volgens Lev 10:10-11 was dit die plig van die priesters*1 (dit wil sê Aäron* en sy seuns) om te onderskei tussen rein en onrein. Die vernaamste versameling voorskrifte oor die onderwerp volg kort daarna in Lev 11–15. Lev 11 het dit oor rein en onrein kos en verskaf ’n lys van diere wat geëet mag word en nog ’n lys wat ontoelaatbaar is. Ander kategorieë wat hier bespreek word, sluit in die tydperk wat ’n vrou onrein is ná sy geboorte geskenk het (Lev 12), velsiektes wat onrein maak en skimmel op kledingstukke of in huise (Lev 13–14). In lg gevalle word dieselfde Hebreeuse* woord gebruik vir die velsiektes en die skimmel. Hoofstuk 15 gaan oor verskillende (seksuele) afskeidings by mans en vroue wat ’n mens onrein maak. Nog ’n belangrike gedeelte is Num 19 waar ons die meeste voor­skrifte kry oor die aanraak van lyke en die gevolglike onreinheid. In Lev 21–22 is daar nog strenger voorskrifte vir priesters, juis omdat hulle die mense was wat in die heiligdom gewerk het en “heilig*” moes wees – wat klink soos ’n oortreffende trap van “rein”. Pries­ters mag bv nie in die geval van ’n “naaste bloedverwant” se afsterwe naby ’n lyk kom nie en mag ook nie rou nie.

Vir die meeste van hierdie toestande be­staan daar verskillende reinigingsvoor­skrifte wat kan wissel van jouself was (b­v Lev 15:16 vir ’n saadafskeiding by ’n man), ’n wagtydperk (bv ’n vrou ná sy geboorte geskenk het in Lev 12), of die bring van ’n “reinigingsoffer” (kyk na Lev 14:19), of “skuldoffer” (Lev 14:12-13), of kombinasies van bogenoemde.

Daar was al verskeie pogings deur Bybelse* geleerdes en antropoloë (bv Mary Douglas) om die betekenis van hierdie stelsel van rein en onrein te verstaan, maar met ’n gemengde mate van sukses. Die feit bly staan dat hierdie gebruik vir moderne lesers mees­tal onverstaanbaar is. Verskeie geleerdes (bv Wenham en Milgrom) het geargumenteer dat onreinheid geassosieer kan word met dood en siekte, maar dit verklaar nie alles nie. Mary Douglas beskryf reinheid as “heelheid” en dat onreinheid afbreuk doen aan hierdie heelheid, maar dit verduidelik ook nie alles nie. Wat wel duidelik is, is dat reinheid ’n ruimtelike element het. So is die tempel* as plek heilig en moet dit afgegrens word van alle onreinhede daarbuite deur ’n stuk land wat rein is. Die sg “reinigings­offer*” se doel was meestal om die heiligdom te reinig van dit wat mense daarbuite gedoen het (Kyk by: Offers en offerandes).

Die Nuwe Testament* stel meer belang in erge vorms van onreinheid soos afgodediens, seksuele sondes en moord. Jesus* fokus meer op bose gedagtes wat die bron is van ander sondes (Mark 7:15, 21-22). Die natuurlike vorms van onreinheid (soos velsiektes of die aanraak van dooies) word dikwels deur Jesus genees of eenvoudig geïgnoreer (Mark 1:40-41; 5:21-43).

Dit het ’n tyd geneem vir die Vroeë Kerk* om die meeste Joodse* voorskrifte oor rein en onrein te laat vaar. Hierin het die insi­dent met Kornelius* in die Handelinge* veral ’n deurslaggewende rol gespeel (Hand 10, 11 en 15). Paulus* aanvaar dit as vanselfsprekend dat die Joodse voorskrifte oor rein en onrein diere nie meer op Christene van toepassing is nie (1 Kor 8:8).

Vir verdere lees: M Douglas 1966. Purity and Danger: An Analysis of the Concepts of Pollution and Taboo. Londen: Ark.

 

Sidebar