REÏNKARNASIE

REÏNKARNASIE (samsara) is die Hin­doe*-Boeddhistiese* filosofie wat glo aan die transmigrasie van ’n entiteit (atman, purusha), dierlik of menslik, van liggaam na liggaam. Die status van elke opeenvolgende liggaam is die direkte gevolg van die morele kwaliteit van die lewe wat die entiteit in die vorige liggaam geleef het. Die migrasie van liggaam tot liggaam is ge­baseer op die wet van karma*. Karma leer dat goeie dade beloon en bose dade gestraf word. Reïnkarnasie is dus die praktiese manier waarop ’n mens die vrugte van jou dade pluk. Die “self” word telkens in ’n nuwe materiële bestaanswyse gedwing, totdat alle karmaskuld vereffen is.

Belangrik is dat die persoonlike kern ver­dwyn vóór die geboorte in die volgende liggaam en geen psigies-mentale elemente kan van een lewe na ’n volgende oorgedra word nie. Die doel van die karmasiklus is om na die hoogste vlak van eksistensie te beweeg, te ontsnap aan die stoflike en een te word met die kosmos. Moderne Westerse weergawes van reïnkarnasie verskil substansieël hiervan, omdat reïnkarnasie nie gesien word as iets waaruit ’n mens tot elke prys moet ontsnap deur die aflê van die persoonlike nie, maar juis as die geestelike vooruitgang van ’n persoon.

 

Sidebar