REITZ, FRANCIS WILLIAM

REITZ, FRANCIS WILLIAM (1844–1934) het sy regsopleiding in Kaapstad en Leiden ontvang en praktiseer van 1868 af as advokaat. Hy werk ook as deeltydse joernalis in Kaapstad en word in 1873 lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering vir Beaufort-Wes. In 1874 is hy as die eerste voorsitter van die nuwe Vrystaatse appèlhof aangestel en deur sy toedoen is die Vrystaatse regstelsel ingrypend hervorm. Met die Eerste Vryheids­oorlog* van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) teen Brittanje, het Reitz ’n nuwe politieke rol begin speel. Hy publiseer saam met CLF Borckenhagen die grondwet van ’n Vrystaatse Afrikanerbond, en ’n tak van dié organisasie word in Mei 1881 gestig. Dit bring hom in botsing met pres JH Brand. Reitz word nietemin in 1888 met ’n groot meerderheid tot Vrystaatse president verkies, waarna hy besondere aandag gegee het aan die ontwikkeling van die landbou, ’n spoorwegstelsel en die totstandkoming van ’n tolverbond met die Kaapkolonie. Hy sluit in 1889 ook ’n verdedigingsverdrag met die ZAR.

Op onderwysgebied het Reitz nuwe skole tot stand gebring en die Grey-Kollege is deur die staat oorgeneem. Hierbenewens het Reitz Nederlands as amptelike taal bevorder, en is die Letterkundige en We­tenskapsvereniging, die Nasionale Mu­seum in Bloemfontein en ’n openbare biblioteek tot stand gebring. Hy verwerf bekendheid as vroeë digter en skrywer in Afrikaans*. Reitz was ’n diep godsdienstige mens met ’n sterk naasteliefde, ’n fyn aanvoe­ling vir die natuur en ’n wetenskaplike ingesteldheid.

Sidebar