RELASIONELE WAARHEIDSBEGRIP

RELASIONELE WAARHEIDSBEGRIP. Die konsep relasioneel, relasio­naliteit en relasionele waarheid was nog altyd van fundamentele belang vir die Christelike teologie*. Leerstellings soos die Inkarnasie- (menswording van Christus*) en die Triniteitsleer (leer oor die Drie-eenheid*), moontlik die mees tipiese en kenmerkende leerstellings van die Christelike teologie, is wesenlik relasioneel. Die historiese ontwikkeling van die konsep “relasionaliteit” en die gepaardgaande idee van “relasionele waarheid”, is kompleks en fassinerend en strek vanaf prominente filosowe in Antieke Griekeland, via Hume, Kant* en Hegel* tot en met die ryk verskeidenheid van kontemporêre postmoderne* denkers. Trouens, van­dag is daar ’n nuwe waardering vir die relasionele as ’n verklarende konsep in die filo­sofie, teologie, wetenskap, epistemologie en etiek*, soveel so dat filosowe en teoloë selfs praat van die “wending na relasionaliteit”. In die teologie verteenwoordig relasionele waar­heid spesifiek ’n swaai weg van substantiewe denke na relasionele denke. Selfs die vroeë Hervormers (Kyk by: Hervorming) dink alreeds meer relasioneel oor ’n leerstelling soos die imago Dei (beeld van God*) en sien nie net ’n geïsoleerde substansie soos intelligensie of rasionaliteit as die beeld van God nie, maar artikuleer heel spesifiek dat die totale menslike persoon relasioneel as die beeld van God gesien moet word. Sienings rond­om die gesag van die Heilige Skrif* was soms sterk uiteenlopend tussen dié wat die Skrifwaarhede as objektiewe gegewe be­skou en dié wat ’n relasionele karakter daaraan toeken.

Dit was egter die filosoof Immanuel Kant* wie se werk ’n nuwe relasionele konseptuele ruimte sou open en wat later tot dinamiese relasionele hipoteses in fisika, evolusionêre biologie, psigologie en ander wetenskappe, insluitende filosofiese epistemologie (kennisleer), sou lei. In die geskiedenis van die filosofie het die begrip relasionele waarheid interessant en met groot verskeidenheid ontwikkel in die verskillende stromings van analitiese filosofie, kontinentale filosofie, wetenskapsfilosofie en prosesfilosofie/teologie. Vandag, binne die konteks van postmo­derne* en post-postmoderne denke, is die idee van relasionele waarheid in die teologie direk verbonde met anti-metafisiese, anti-abstrakte vorms van konkrete, situasie-gebonde denkmodelle en vind veral uiting in belang­rike vorms van lokale teologieë soos, onder andere, bevrydingsteologie* en feministiese teologie*. Die heersende vorms van relasionele denke word steeds direk beïnvloed deur filosowe soos Friedrich Nietzsche*, Edmund Husserl, Martin Heidegger*, Jean-Paul Sartre*, Maurice Merleau-Ponty, Jacques Derrida en veral Emmanuel Levinas.

Sidebar