RELIGIE

RELIGIE. Hierdie komplekse begrip is uiters moeilik om bevredigend te definieer, aangesien daar soveel uiteenlopende sie­nings bestaan van wat die woorde “gods­dienstig” of “religieus” sou kon beteken. Die mees tipiese en algemene definisie van religie verwys gewoonlik na “godsdiens*” en dus na ’n ek­stern waarneembare sisteem van rituele, stories en oortuigings wat op kultureel*-spesifieke wyse tot uitdrukking kom in ’n spesifieke vorm van godsdiens of aanbidding*. Religie is verder direk verbonde aan die algemeen-menslike be­hoefte aan finale verklarings en sin in die lewe, en word in elke kultuur en in elke tydperk van die menslike geskiedenis gevind. Die ontwikkeling van, en behoefte aan, godsdienstige vervulling in hierdie sin kan dus inderdaad as ’n universele mens­like verskynsel gesien word. In hierdie sin kan ’n mens ook sê dat geen antropologiese (“leer van die mens”) verklaring van wat mens-wees beteken, ooit volledig kan wees indien die mens se fundamentele religiositeit nie in ag geneem word nie. Religie in die breedste sin van die woord verskaf dus ’n konteks vir sin en betekenis vir die mees kenmerkende van menslike ervarings soos geboorte, dood*, vreugde, pyn, liefde*, kwesbaarheid en ly­ding*. Die kenmerke van verskillende godsdienste verskil egter so wyd dat dit uiters moeilik is om veralgemenend oor “religie” te praat. Die Reformatoriese teologie* het altyd die menslike disposisie vir godsdiens en aanbidding duidelik erken, maar uiteraard as ingebed in ’n spesifieke Skrif­tuurlike* openbaringsteologie. Ekstreme beskouings soos dié van die teoloog Karl Barth* het egter alle religie as menslike konstruksie gesien en as sodanig in direkte konflik met die Christelike geloof. Vandag is daar groot klem op positiewe, interreligieuse dialoog in die teologie.

 

Sidebar