RENAISSANCE

RENAISSANCE is ’n kultuurhistoriese term wat verwys na ’n grootskaalse vernu­wing en omwenteling wat in die kulturele lewe van Europa plaasgevind het aan die einde van die Middeleeue en sodoende die oorgang na die moderne era ingelui het. Historici verskil oor wanneer en waar dit ongeveer begin het en selfs oor die vraag of daar nie meer as een “Renaissance” was wat opeenvolgend of in verskillende dele van Europa plaasgevind het nie. Nogtans word aanvaar dat dit so vroeg as die 12de eeu kon begin het en stukrag gekry het met die val van Konstantinopel* in 1453 toe Bisan­tynse geleerdes na Italië gevlug en nuwe lewe geblaas het in die bestudering van die antieke Griekse en Romeinse* beskawings, vanwaar die beweging gedurende die 15de eeu na die noorde van Europa uitgebrei het. Florence staan bekend as een van die stede waarin die vroeë Renaissance ’n besondere hoogbloei beleef het en vanwaar daar ’n groot invloed op die res van Europa uitgegaan het. Die woord “Renaissance” is ’n Franse vertaling van die oorspronklike Italiaanse Il Rinascimento (van Rinascenza) wat “wedergeboorte” bete­ken. Daarmee word bedoel dat die Europese kultuur* (en uiteindelik ook politieke en sosiale orde) ná die stagnasie van die Middeleeue ’n ingrypende nuwe wending geneem het wat geïnspireer is deur die herontdekking van die nie-Christelike gedag­tegoed van die antieke wêreld. Kenmerkend was die nuwe waardering, selfs verheerliking, van die moontlikhede en vermoëns van die mens wat uitdrukking gevind het in die wetenskappe en die kunste. Die opkoms van die Renaissance was die doodsklok vir die Middeleeuse sosiale en politieke orde, die sogenaamde Corpus Christianum, wat gekenmerk is deur die allesbepalende rol van die Christelike godsdiens* en die institusie van die kerk*. Vandag word die begrip “Renaissance” ook oordragtelik gebruik om te verwys na ander vorms van kulturele vernuwing, selfs as dit nog nie plaasgevind het nie, maar as ’n ideaal nagestreef word, soos in die sg “Afrika-Renaissance”.

 

Sidebar