RENTMEESTERSKAP

RENTMEESTERSKAP is die oortuiging dat ons rentmeesters (bestuurders; stewards) is wat die roeping van God ontvang het om sy eiendom verantwoordelik te bestuur. Die grondslag hiervan is die geloof* dat God die Skepper en Eienaar (Here*) van alles is (bv Ps 24). Vol­gens die eerste Bybel*verhale kry ons die verantwoordelikheid om vir die skepping* te sorg en dit op te pas. Die woord “heers” in “heers oor die skepping” moenie as wille­keurige mags­uitoefening soos in Westerse tale verstaan word nie, maar as ’n Semitiese* uitdrukking. ’n Boom wat oor sy omgewing “heers”, beteken die uittronende boom is goed vir sy omgewing: dit verskaf skuiling en dra vrugte.

Ons is ook nie eienaars van ons gesinslede of werknemers nie, maar God se bestuurders wat moet sorg dat hulle die nodige versorging, erkenning, vergifnis ontvang sodat hulle die mense kan wees wat God bedoel het hulle moet wees.

Verantwoordelikheid moet ook vir die sosiale en politieke terreine aanvaar word omdat God “koning” oor alle lewensterreine is. In gelykenisse* (waaronder Matt 24:45 en volgende verse, Matt 25:14 en volgende verse en Luk 16:1 en volgende verse) bevestig Christus ons omvattende roeping. Hieruit blyk ook dat rentmeesterskap aan die wederkoms*verwagting verbind word.

Rentmeesterskap word in die besonder in verband gebring met die verantwoordelike omgaan met die middele (geld) wat die Here aan ons sorg toevertrou het (Kyk ook: Tiendes, en: Privaatbesit).

Sidebar