RETIEF, FRANK

RETIEF, FRANK (1942–) was ’n leerling aan die Wynberg Boys’ High School in Kaapstad, en het daarna by ’n versekeringsmaatskappy gewerk voordat hy aan die Bible Institute of South Africa opgelei is. Hy studeer ook aan die Universiteit van Londen en behaal BTh Honneurs aan die Universiteit van Kaapstad. In 1965 word hy georden* in die Church of England* in South Africa en na drie jaar in die bedie­ning* in Pinetown keer hy terug na Kaapstad. In 1967 trou hy met Beulah Davenport, en hulle stig die St James-kerk in Kenilworth met ’n taamlike charismatiese* aanslag. Dit groei van vier gemeentelede tot meer as 1 500 en brei uit na meer as 20 dogterkerke. Retief is die skrywer van verskeie boeke, een daarvan oor die aanval op die St James Kerk in 1993 – midde-in die gespanne onderhandelingstyd oor ’n nuwe staatkundige bedeling vir Suid-Afrika. Op Sondag 25 Julie het vier gewapende terroriste by die kerk ingebars, handgranate in die kerk ingegooi en met masjiengewere op die gemeentelede geskiet. Altesaam 58 mense is in die aanval beseer, en 11 het gesterf. Drie van die aanvallers het later amnestie gekry. Retief skryf oor die gemeente se ervaring van die gebeurtenis in Tragedy to Triumph. Retief het mettertyd voorsittende biskop* van die Church of England in South Africa en voorsitter van die kerk se oplei­dingsinrigting, die George Whitefield College, geword.

 

Sidebar