RETIEF, PIETER (PIET)

RETIEF, PIETER (PIET) (1780–1838) se bekendheid in die Suid-Afrikaanse ge­skiedenis word veral toegeskryf aan sy gewelddadige dood toe hy as amptelike leier van die Voortrekkers* met Dingane* oor grondgebied in Natal onderhandel het. Hy het vroeër met sy bekende Manifes wat in die Graham’s Town Journal gepubliseer is, sy redes vir die Groot Trek* saamgevat. Dit het talle grensboere oorreed om aan dié grootskaalse trekbeweging deel te neem. Retief se verkiesing as “goewerneur” van die Voortrekkers het sy gewildheid bevestig. Hy tree in dié hoedanigheid egter onverant­woordelik op deur persoonlik aan die hoof van ’n groot kommando te staan wat selfs vir ’n tweede keer met Dingane onderhandel het oor grondgebied in Natal. Dit was ondanks besware en waarskuwings van ander Voortrekkerleiers. Retief se eiesinnige optrede met ’n oormaat selfvertroue het op 6 Februarie 1838 tot sy en sowat 100 makkers se dood by Dingane se reusagtige mGungund­lovu-kraal gelei. Dit het ook die moorde en verrassingsaanvalle later in Februarie 1838 op Voortrekkerge­meen­skappe soos by Blou­kransrivier en Moord­spruit meegebring. Die Retief-Dingane­traktaat was uiteindelik Retief se enigste “erflating” aan die Voortrekkers. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis het hierdie gebeur­tenisse, wat onder meer uitgeloop het op die Slag van Bloedrivier* later daardie jaar, blywende wonde geslaan wat op verskillende maniere in wit en swart se herinneringe voortgeleef het en versoening (Kyk by: Versoening in Suid-Afrika) soms byna on­moontlik gemaak het.

Vir verdere lees: E en J Gledhill 1980. In the Steps of Piet Retief. Johannesburg: Human en Rousseau.

Sidebar