RETRAITE

RETRAITE is Frans vir retreat in Engels. Dit kom uit die Latyn en verwys na ’n terugtrek uit die wêreld ter wille van bepeinsing, gebede, boetedoening, selfondersoek, toewyding en ’n soek na die wil van die Here. ’n Mens doen dit alleen of as ’n groep, eenmalig of gereeld. Dis ’n eeue-oue Christelike tradisie met sterk Bybelse* wortels. Jesus* het veertig dae gevas en gebid (Matt 4) en Hom talle kere onttrek om stil te raak en te bid (lees die Lukas*-Evangelie). Die Taizé-gemeenskap* in Frankryk het bekend geword as ’n retraite-sentrum (http://www.taize.fr/en) met dui­sende jongmense wat dit jaarliks opsoek. In die Taizé-tradisie gaan die terugtrek uit die wêreld met meer as net stilte en bepeinsing gepaard. In die ouer Katolieke* tradisie van kloosters* in die berge of woestyne, is die klem veel meer op stilte en meditasie*. Gebed* en die lees van die Bybel speel ’n sleutelrol, want die bedoeling is om na God te luister. ’n Geestelike mentor of begeleier staan ’n mens by sodat jy iemand kan hê wat na jou kan luister en jou geestelike leiding kan gee. Ná krisisse in jou lewe of voor groot besluite kan ’n retraite ’n groot rol speel om weer diepgang en rigting te vind en om heel te word.

Vir verdere lees: Joanna Baldwin 1983. Learning about Retreats. Londen: Mowbray.

 

Sidebar