REWOLUSIE/REVOLUSIE

REWOLUSIE/REVOLUSIE dui in die eerste plek op opstand teen die staat wat tot ’n algehele ommekeer van die stelsel lei (HAT, 2015). So word dit gebruik in die titel van Niël Barnard se boek, Geheime revolusie (2015), waarin vertel word van tronkgesprekke tussen Barnard en Nelson Mandela* waar inderdaad geheime “revolusionêre” voorwerk gedoen is wat meegehelp het tot ’n totale ommekeer van die destydse Suid-Afrikaanse bestel. Die term word ook gebruik vir ’n ommekeer op ander terreine van die lewe, soos bv blyk uit die titel van Lizette Rabe (samesteller) se boek oor Naspers/Media 24, ’n Konstante revolusie (2015), wat in dié geval dui op ’n voortdurende “ommekeer” in die mediawêreld. In die geskiedenis van die kerk* sou sommige mense die Kerkhervorming* van die 16de eeu moontlik as ’n kerklike “revolusie” wou tipeer aangesien dit gelei het tot ’n ommekeer in die kerk – aan die een kant die Katolieke Kerk* wat daarna nie dieselfde as voorheen gebly het nie, aan die ander kant die kerke van die Hervorming wat ’n heeltemal ander rigting ingeslaan het. Die tradisionele term, “hervorm”, is egter ’n meer gepaste woord om in lg verband te gebruik: “opnuut/anders vorm; ’n gewysigde vorm gee; reformeer” (HAT, 2015). (Kyk ook by: Hervorming.)

 

Sidebar