RHODES, CECIL JOHN

RHODES, CECIL JOHN (1853–1902) is as seun van ’n latere vikaris van die Anglikaanse Kerk* gebore. Hoewel hy oënskynlik nie teësinnig oor sy pa se wens was om die teologie* te bestudeer nie, het Rhodes hom aan die Universiteit van Oxford in ander rigtings bekwaam. Godsdiens sou nie in sy lewe ’n deurslaggewende rol speel nie. Hy het met tussenpose sy regsstudie voortgesit en is in 1876 tot die Inner Temple toegelaat.

Rhodes het vroeg al ’n groot indruk gemaak as veelsydige sakeman wat byna bomenslike sukses behaal het met sy visionêre vergesigte soos die totstandko­ming van die De Beers Consolidated Mines in 1880 vir sy diamantbelange, en Gold Fields of South Africa in 1887. Hy was ’n bekende landbouer en groot weldoener, asook skenker van die Rhodesbeurse vir knap studente. Hy het in natuur- en erfenisbewaring belang gestel met sy grootskaalse restourasie van Kaaps-Hollandse huise deur die Rhodes Fruit Farms, asook die aankoop van eiendomme aan die oostelike kant van Tafelberg vir die permanente behoud daarvan. Hy stig Rhodesië wat na hom genoem is (tans Zimbabwe en Zambië). Dit was vir hom die begin van sy ideaal om ’n Britse invloedsfeer van Kaap tot Kaïro te bewerkstellig en het verder gelei tot die proklamasie van ’n deel van Betsjoeanaland (tans Botswana) as ’n Britse protektoraat.

Rhodes het in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie geword met die steun van Onze Jan Hofmeyr* en sy Afrikanerbond. Hy beywer hom vir ’n politieke federasie van die Boere-republieke en Britse kolonies in Suid-Afrika onder die Britse vlag. As eerste stap wou Rhodes ekonomiese samewerking tussen die ZAR, die Vrystaat, Natal en die Kaapkolonie kry deur hulle in ’n tolunie te verenig.

Pres Kruger* van die ZAR het die verwesenliking van Rhodes se ideale teengestaan omdat ekonomiese samewerking met die Kaapkolonie volgens hom die einde van die onafhanklikheid van die ZAR sou bete­ken. Rhodes het by ’n sameswering betrok­ke geraak om die Kruger-regering tot ’n val te bring deur die uitbuiting van die “uitlanders” se griewe oor veral stemreg in die ZAR. Dit het tot die mislukte Jameson-inval van 1896 gelei, wat Rhodes verplig het om as eerste minister van die Kaapkolonie te bedank en grootliks die einde van sy politieke invloed in Suid-Afrika beteken het. Hy was 49 toe hy oorlede is, en van sy laaste woorde op sy sterfbed sou gewees het: “So much to do, so little done”.

Cecil John Rhodes het vir baie mense dié verpersoonliking van onderdrukkende kolonialisme* en verwerplike Britse imperialisme geword. Dit het meer as ’n eeu ná sy dood aan die Universiteit van Kaapstad tot uitbarsting gekom toe ’n suksesvolle veldtog in 2015 deur studente van die universiteit gevoer is om ’n prominente standbeeld van Rhodes (die skenker van die grond waarop die universiteit opgerig is) van sy sentrale staanplek op die hoofkampus, te verwyder. Ironies genoeg het Nelson Mandela* nie beswaar gehad dat sy naam aan dié van Rhodes gekoppel word in die Mandela-Rhodes-stigting nie.

Vir verdere lees: A Davidson 2003. Cecil Rhodes and His Time. Johannesburg: Pro­tea Book House. A Thomas 1996. Rhodes: The Race for Africa. Jeppestown: Jonathan Ball Publishers.

 

Sidebar