RICCI, MATTEO

RICCI, MATTEO (1552–1611) was die eerste suksesvolle sendeling* in China*. Hy het regte in Rome gaan studeer. Tot sy pa se verdriet, sluit hy by die Jesuïete* aan. Hy hou egter vol om wiskunde aan die Je­suïete-skool te bestudeer – ’n opleiding wat later vir hom deure sou oopmaak. Aan­vanklik word Ricci na Goa in Indië gestuur, maar uiteindelik kry hy sy sin en word na die Chinese hawestad Macau verplaas. Die meeste sendelinge was beperk tot Macau en nie toegelaat om dieper in China in te gaan nie. Maar toe die goewerneur van Sjiuhing van Ricci se kennis van wiskunde, sterrekunde en geografie gehoor het, nooi hy hom om in sy provinsie te kom werk. Ricci het sy kennis met die geleerdes ge­deel, uit wie se geledere ’n hele paar be­keerlinge gekom het. Hy en sy medewerker, Ruggieri, het aanvanklik hulle koppe ge­skeer en in die klere van Boeddhiste*-monnike gewerk, maar dit later vir die uitrus­tings van Confusiese geleerdes verruil wat, het hulle gevoel, meer gepas was.

Ricci het, net soos De Nobili* in Indië, heelwat teenstand gekry oor sy akkommoderende sendingstrategie. Maar hy het baie sukses behaal en het met die toestemming van die keiser later in Bejing sendingwerk gedoen, tot met sy dood in 1611.

Vir verdere lees: RA Tucker 1983. From Jerusalem to Irian Jaya. Grand Rapids: Zon­dervan.

Sidebar