RICHARDS, LAWRENCE O (LARRY)

RICHARDS, LAWRENCE O (LARRY) (1931–) was redakteur by Scripture Press Publications in Wheaton, Illinois, medeprofessor in Christelike onderrig aan Wheaton-kollege en is sedert 1972 voltydse skrywer.

Richards het reeds meer as twee honderd publikasies op sy kerfstok. Die onderwerpe wat behandel word en teologies* belangrik is, sentreer veral rondom jeugsorg en gemeentebou*. Sy boek oor jeugsorg, Youth Ministry: Its renewal in the local church (1972), en een oor kategese, Christian Edu­cation (1975), het hom aan teologiese studente in Suid-Afrika bekend gestel. Terwyl hy die kulturele konteks in aanmerking neem, wil hy ’n Bybel*gefundeerde benade­ring tot jeugwerk daarstel. Hy bepleit ’n diens­knegstyl in jeugsorg, bied teologiese refleksie oor sosiologiese en sielkundige pers­pektiewe rakende jongmense, spreek hom uit teen ’n gefragmenteerde jeugbe­diening en staan ’n bedieningsmodel voor wat die onderlinge verbondenheid van die jeug en die gemeente* bevorder. Toe ge­meen­tebou in die 1980’s as vakgebied aan Suid-Afrikaanse teologiese fakulteite gevestig ge­raak het, het Richards opnuut aandag getrek met ’n boek soos A theology of church lea­dership (1980). Hierin funksioneer die kerk* as liggaam van Christus* as die sentrale metafoor*. Dit beteken dat die kerk primêr as ’n organisme gesien word en nie soseer as ’n organisasie benader word nie.

Vir verdere lees: LO Richards 1972. Youth Ministry: Its Renewal in the Local Church. Grand Rapids: Zondervan. LO Richards 1975. Christian Education, Grand Rapids: Zon­dervan. LO Richards en C Hoeldtke 1980. A Theology of Church Leadership. Grand Rapids: Zondervan. LO Richards en G Martin 1981. A Theology of Personal Ministry. Grand Rapids: Zondervan. LO Richards 1988. A Practical Theology of Spi­rituality. Grand Rapids: Zondervan.

 

Sidebar