RICOEUR, PAUL

RICOEUR, PAUL (1913-?) is ’n Franse Protestantse* eksistensiële denker wat hoogleraar aan die Sorbonne was. Hy het ’n eie filosofie ontwikkel waarvolgens die mens gekarakteriseer kan word vanuit die wil. Hierdie wil is nooit outonoom nie, maar gaan saam met die “noodsaak”. Die menslike vryheid oorskry (transendeer) die beperkthede van die menslike bestaan daarin dat by die mens “hoop” bestaan wat in wese religieus gerig is. Belangrik by Ricoeur is die onderskeid wat hy tussen ’n “eerste” en “tweede” naïwiteit maak. In ’n vroeë fase van “eerste” naïwiteit het ons ’n oogklap-geloof: ons wil niks in die Bybel* en in ons godsdiens* bevraagteken nie, en ons wil nie uitgedaag word om enigsins krities te dink nie. In ’n volgende fase kom kritiese ondersoek ter sprake. ’n Mens leer dan dat daar heelwat meer agter die Bybel sit as bloot net sekere oppervlakkige waarhede. Hierdie is nie ’n maklike fase nie, want dit plaas jou op die mespunt tussen geloof en ongeloof. Dit daag jou uit om nie maklike kortpaaie in jou geloof te neem nie. Maar as jy daardeur beweeg, kom jy uit by die “tweede naïwiteit”. Volgens Ricoeur behels dit ’n lewensuitkyk waar ’n mens bereid is om kritiese vrae te stel en nie alles vir soetkoek op te eet nie. Dis ’n fase waarin ’n mens nie bedreig voel deur kritiese vrae wat aan jou geloofs- en Bybelverstaan gevra word nie. Dis ’n fase waarin ’n mens literêre, historiese en teologiese vaardighede ontwikkel het om die Bybel in ’n (post)moderne wêreld te kan interpreteer. “’n Tweede naïwiteit bring rustigheid oor die eindigheid van die menslike verstaansvermoëns, en vrede oor die bewustheid van die Transendente. Dit bring ruimte vir gesprek” (Louis Jonker).

Bekende werke van Ricoeur is Philosophie de la volonté (1949) en Histoire et vérité (1955).

Lees ook: Louis Jonker (bl 83-94) in George Claassen en Frits Gaum (reds) 2012. God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar