RIGTERS (BYBELBOEK)

RIGTERS (BYBELBOEK) vertel van die vroeë geskiedenis van Israel* voordat daar nog ’n koning in die land was (let op die refrein in Rig 17:6, 18:1; 19:1; 21:25). So bevat die Rigtersboek verskillende tradisies van die onderskeie stamme in Israel.

Samesteller: ’n Samesteller(s) het hierdie volksverhale byeengebring en in ’n raam­werk geplaas wat daarvan ’n religieuse boek gemaak het. Verder het die samesteller ’n inleiding en ’n slot vir die boek geskryf. Hy het die verhale gerangskik, kommentaar op van die verhale gelewer, en die verhale aan mekaar geheg met tussenvoegsels tot die eenheid wat ons in die Bybel* as die boek Rigters aantref. Die boek het moontlik sy finale vorm in die tyd van die ballingskap* bereik (ná 587/6 vC).

Dit word verder aanvaar dat die same­steller(s) van Rigters ook verantwoordelik was vir of betrokke was by die samevoeging van die boeke Deuteronomium*, Josua*, 1 en 2 Samuel* en 1 en 2 Konings* (Kyk by: Deuteronomistiese geskiedwerk). Hierdie samesteller wou sy gehoor in die 6de/5de eeu vC herinner aan wie hulle is en waar hulle vandaan kom. In die lig van die grootskaalse krisis van die ballingskap, moedig die samesteller die mense aan om die lesse van die verlede te leer en hulle opnuut toe te wy aan God.

Indeling: Die inleiding tot Rigters (Rig 1–3:6) skets die agtergrond tot die rigters­verhale. Rig 2:11-21 lê die patroon vir die res van die boek vas: Israel het verkeerd ge­doen in die oë van God (vers 11-13); God word kwaad en straf hulle deur hulle oor te gee in die hande van hulle vyande (vers 14-15); die Israeliete kry baie swaar en roep om hulp by God (vers 17); God stuur ’n red­der/rigter* om hulle te verlos (vers 16-18); daar heers vrede vir ’n aantal jaar tot die rigter se dood (vers 18); ná die rigter se dood gaan dit erger as met die vorige ge­slag, wanneer die afgodediens maar net voort­gaan, en die patroon dus weer van voor­af begin (vers 19-21).

Die tweede deel van Rigters (Rig 3:7–16:31) bestaan uit ’n reeks verhale wat vertel van die rigters se wedervarings. Die verhale van Ehud* (Rig 3), die vroue-rigter Debora* (Rig 4–5), Gideon* (Rig 6–8), Jefta* (Rig 11) en Simson* (Rig 13–16) bevat al die elemente van ’n goeie verhaal: spanning, aksie, konflik en eg menslike karakters. Ons sien hoe God deur ’n aantal talentvolle leiers sy volk verlos van ’n lewe van onderdrukking en uitbuiting. Maar elkeen van hierdie rigters het ’n tekortkoming of iets wat hulle roeping benadeel. So dryf Jefta se ambisie hom om ’n gelofte te maak wat hom sy dogter kos, en Simson se voorliefde vir vroue bring mee dat hy op die ou end sy kragte verloor en nie sy taak as leier kan nakom nie. Maar nieteenstaande die ge­breke van die leiers, werk God deur hulle. In elkeen van hierdie verhale sien ’n mens hoe verlossing plaasvind in ’n wêreld wat ver van volmaak is.

Die slot van die Rigtersboek (Rig 17–21) beklemtoon die afwesigheid van ’n koning wanneer twee verhale vertel word wat die morele en godsdienstige verval van die gemeenskap uitbeeld. So vertel Rig 17–18 die storie van die Leviet* wat sy eie tempeltjie en huisgod* aanhou en die ongeluk­kige gebeure wat hierdie daad van afgodediens tot gevolg het. En in Rig 19–21 word die grusame verhaal vertel van geweld teen die Leviet se byvrou. Dit is inderdaad waar wat gesê word dat ’n gemeenskap gemeet kan word aan die manier waarop die mees weerlose lede van die samelewing behandel word – in die slotverhaal van die boek Rigters, ’n vrou sonder naam en sonder status.

Samevatting: As geheel beskou, neem die Rigtersboek die vorm aan van ’n afwaartse spiraal wat eindig op ’n donker noot met geweld, oorlog tussen families, en ’n afwesige God. Dit hou verband met ’n belangrike tema van Rigters, naamlik die gebrek aan ’n sentrale regering, met mense wat gevolg­lik maak net soos hulle wil. Die samesteller van die boek Rigters plaas sy hoop op ’n koning, by name koning Dawid*, om orde in die gemeenskap te herstel. As deel van die groter literêre konteks berei die raam­werk van Rigters die leser voor vir die geskiedenis van die Dawidiese koningshuis wat volg (soos beskryf in Samuel* en Konings*).

Die Rigtersboek vertel ook die stories van ’n aantal sterk vroue-figure. In ’n same­lewing sonder ’n gesentraliseerde regering, het vroue dalk makliker die leiding ge­neem. ’n Mens vind ook in Rigters ’n aantal stereotipiese uitbeeldings van vroue, soos die goeie ma en die slegte vrou of prosti­tuut (kyk byvoorbeeld na Simson se verhaal in Rig 13–16). Hierdie uitbeeldings van vroue in Rigters help ’n mens om te verstaan dat die Rigterverhale dateer uit ’n tyd met waardes wat anders was as dié van ons tyd. ’n Mens moet dus die verhale (ook die brutale geweld) met ’n kritiese oog lees. Aan die ander kant is daar temas soos die geweld teen vroue wat vandag meer relevant as ooit is.

Lees ook vir ’n interpretasie van sommige vertellings in Rigters: Cas Wepener 2015. Kookpunt! Nadenke oor woede: ’n Gelowige reaksie van ’n ontnugterde volk. Wellington: Bybelkor.

Sidebar