RIGTERS

RIGTERS tree In die Ou Testament* op as leiers in Israel* in die tyd voordat daar ’n koning* in die land was, en kan as ’n tree op die pad na ’n mo­nar­gie beskou word. In vredestyd het die rigters regeer deur, soos bv De­bora*, te sit en mense se geskille vir hulle op te los. Maar die rigters is veral bekend vir hulle rol om Israel van hulle vyande te red. Heelparty van die rigterverhale vertel hoe God die rigters spesiaal vir hierdie taak roep.

Tradisioneel word daar ’n onderskeid getref tussen “groot” en “klein” rigters. Die groot rigters (soos Debora, Gideon*, Jefta* en Simson*) se verhale word volgens ’n spesifieke patroon vertel. Meestal was die groot rigters ’n onwaarskynlike keuse vir die taak: Ehud* is links, Debora is ’n vrou, Gideon twyfel in sy eie vermoëns, en Jefta is die seun van ’n prostituut. Maar deur middel van God se Gees wat oor hierdie rigters kom, verlos God sy mense, waarna daar ’n aantal jare van vrede heers.

Oor die klein rigters is daar min bekend. In Rig 10 word ’n reeks klein rigters soos Tola, Jaïr, Ibsan, Elon en Abdon net kortliks genoem met inligting oor uit watter clan of stam hulle afkomstig was, vir hoe lank hulle regeer het, en waar hulle begrawe is. Ander name wat ook in hierdie verband genoem word, is Otniël, Samgar* en Barak.

Vir verdere lees: J Claassens 2001. Sonne­kind en meisie van die nag. Wellington: Lux Verbi.BM.

Sidebar