RING

RING. ’n Kerkverband*, wat ’n hegte kerk­regtelike* vorm van kerkeenheid is, kan uit verskillende grade van verbandsvorms en verbandsvergaderings bestaan, soos ge­meen­te-verbande, ringsverbande, sinodale verbande en ’n algemene sinodale verband.

Die ringsverband is ’n belangrike vorm van kerkverband van gereformeerde* kerke. In die gereformeerde wêreld kry ons die eerste vorm van ringsverband in die Franse gereformeerde kerke van die 16de eeu. Hulle het ’n ringsverband ’n colloque genoem. In die Nederlandse gereformeerde kerke van die 16de eeu af tot vandag toe word daar gepraat van classisse – ’n term wat as “klassis” steeds deur die Gerefor­meer­de Kerke in Suid-Afrika (GKSA)* ge­bruik word. In die NG Kerk* is daar van die begin af (1824) gepraat van ringe. Die eerste vorm van ’n “ringsvergadering” in die NG Kerk was die Gekombineerde Vergadering wat uit 1845 dateer. Die destydse gemeentes aan die Kaap wou hulle verbandsvergade­ring ’n classis noem, maar die kerk in Nederland wou dit nie toelaat nie. Daar is toe besluit om dit ’n Gekombineerde Ver­gadering te noem. Die eerste sinode* van die NG Kerk (1824) het besluit om ringsverbande in te stel. Die Nederduitsch Her­vormde Kerk van Afrika (NHKA)* gebruik ook hier­die term.

Ringsvergaderings word deur sinodes ingestel en in die ringsverband het ringsgemeentes ’n spesifieke verantwoordelikheid ten opsigte van mekaar, soos die opsig en tug* oor ampsdraers* en die koördinering van die werk deur die ringsgemeentes.

 

Sidebar