RITUELE

RITUELE. Vir baie mense staan rituele in die pad van kreatiwiteit en dinamiek. Rituele is egter in die liturgie* ’n belangrike element van ons aanbidding van en herinnering aan ons Here* en die heilsdade wat Hy vir ons verwerf het. Die manier waarop die rituele aspekte tydens die erediens* ingeklee word, is van die grootste belang en kan alle starheid en verstardheid teëwerk.

Elke Sondag tydens die erediens herhaal ons naamlik die elemente van die wet* van die Here, ons doen belydenis* van ons skuld* en ontvang die vryspraak* uit die Woord* op grond van Christus* se verdienste. Ons aanbid Hom elke Sondag met lofgesange*, verskillende gebede* met verskillende be­doelings, en met die offergawe* wat dui op die oorgawe van ons lewe in sy diens. Son­dag vir Sondag maak ons die Bybel* oop en luister ons na sy Woord. Die sakramente* van doop* en nagmaal* word met vaste reëlmaat herhaal in die erediens. Net so herhaal ons elke jaar die hele siklus van die kerklike jaar* in ons herinnering, aanbidding en viering van Christus se verdienste uit genade* vir ons verlossing. Die manier waarop ons hierdie rituele uitvoer – die kreatiwiteit wat ons aan die dag lê, ook in die skep van nuwe rituele wat die gerefor­meerde* erediens kan verryk en vernuwe – word die gesig van die kerk met sy belydenis en teologie.

Sidebar