ROBBENEILAND

ROBBENEILAND is 545 ha groot en 12 km van die kus van Kaapstad geleë. Anders as die Mediterreense Kaapstad, het die eiland ’n tipiese Karooklimaat vanweë die koue Benguelaseestroom. Dit is sedert 1999 ’n Wêrelderfenisterrein. Sedert die einde van die 17de eeu is die eiland gebruik om bepaalde “ongewenste” indiwidue te isoleer. Aanvanklik is daar ’n tronk gebou om politieke leiers van verskeie Neder­landse kolonies, bv van Indo­nesië, aan te hou. Van 1836 tot 1931 was dit ’n “melaatse kolonie” met ’n hospitaal vir me­laatses. Gedurende die Tweede Wêreld­oor­log* (1939–1945) het dit as militêre basis gedien. Van die kanonne staan steeds daar. Reeds in die tyd toe dit ’n melaatse kolonie was, is ’n kerkgebou daar opgerig (as buite­pos van die gemeente Kaapstad – die Groote Kerk-gemeente). Van toe af is gereeld op die eiland kerk gehou. Die hele eiland behoort aan die staat, behalwe die kerkerf wat aan die NG Kerk* behoort. Die eiland het in die tyd van apartheid* groot bekendheid verwerf as gevangenis vir politieke gevangenes, onder hulle Nelson Mandela*, Walter Sisulu en Govan Mbeki. Tans besoek duisende mense, baie vanuit die buiteland, die eiland jaarliks, veral om die sel waarin Mandela aangehou is, te  besigtig.

Sidebar