ROBINSON, JOHN ARTHUR THO­MAS

ROBINSON, JOHN ARTHUR THO­MAS (1919–1983) is in Kantelberg, En­geland, gebore en het sy teologiese studie aan Cambridge voltooi. In 1945 is hy georden* in die Church of England (Angli­kaanse Kerk*). Ge­du­rende ’n bedieningstydperk in die westelike gedeelte van Enge­land, vol­tooi hy sy proefskrif oor Martin Buber se “I-Thou”-tema (1946), waarna hy aangestel is as de­ken van die Clare College te Cambridge. In hierdie tydperk voltooi hy vier boeke, onder andere oor die eskatologie* en Paulus*, wat nie enige opspraak verwek het nie. Vir tien jaar dien hy as assistentbiskop van Woolwich. In 1960 word sy naam ’n huishoudelike naam in Engelse teologiese kringe met sy verdediging in die hof van die boek Lady Chatterley’s Lover van DH Lawrence. Maar eers sedert die verskyning van sy dun maar opspraakwekkende boekie van 143 bladsye, Honest to God (1963), waarin hy ’n striemende aanval loods op die ortodokse* Bybelse* verstaan van God en die taal van tradisionele godsdiens* onvanpas vir eietydse geloofsbelewing noem, word van hom teologies ernstig notisie geneem. In aansluiting by Dietrich Bonhoeffer*, Paul Tillich* en Rudolf Bultmann*, bevraagte­ken hy nie alleen tradisionele teïsme* nie, maar ook kernelemente van die Chris­tologie* waaronder die leer van die mens­wording van Christus*. Met opmerkings soos die volgende het sy boek aanleiding gegee tot heftige debat: “But suppose such a super-Being ‘out there’ is really only a sophisticated version of the Old Man in the sky? Suppose belief in God does not, indeed cannot, mean being persuaded of the ‘existence’ of some entity, even a supreme entity, even a superior entity, which might or might not be there, like life on Mars?” Kerkleiers het sy bedanking geëis. Een van sy invloedryke kritici het hom selfs ’n ateïs* genoem. Hy het egter sy pos behou en verdere publikasies – alhoewel opvallend teologies meer konserwatief – het uit sy pen verskyn: The Human Face of God (1973), en ná sy dood aan kanker, The Priority of John (1985) en Where Three Ways Meet (1987).

Sidebar