ROMANTIEK

ROMANTIEK verwys aanvanklik na lite­rêre werk vanaf die Renaissance* en spro­kies wat in volkstaal en in relatiewe onaf­hanklikheid van die antieke invloed ge­skryf is. Die romantiek is daarna gesien as ’n Europese beweging in letterkunde*, kuns en filosofie* (einde-18de eeu tot middel-19de eeu). Dit is gerig teen die Verligting* se gebrek aan selfrelativering en aandrang op universele norme. Emosie, spontaneïteit en persoonlike uitdrukking word positief waar­deer, terwyl daar aan die indiwidu en die verbeelding ’n belangrike posisie toe­geken word binne ’n algemene werklikheids­perspektief van ewige wording. Daarom word die romantiek beskou as in opposisie met of komplimentêr tot die klassisisme se klem op ewige vorms, volkomenheid en die rede.

Die romantiek soek onontginde elemente uit die kultuurgeskiedenis om dit in die hede weer krities en polemies te gebruik met die oog op die toekomstige herskepping van die samelewing. Roman­tiek kan ook beskryf word as ’n sosiaalgerigte eties-estetiese program. Hieruit volg verskillende moontlike politieke oriëntasies. 1. ’n Konserwatiewe vasklou aan die verre verlede en oorgelewerde vorms. 2. Re­publikanisme met waardering vir nasio­nale erfgoed. 3. Waardering vir of be­plei­ting van rewolusie.

Romantiek is gekritiseer vir die indiwi­dualisme, dekadensie of godsdienstige konserwatisme wat dit sou bevorder.

Sidebar