ROME

ROME was in die tyd van die Nuwe Testament* die hoofstad van die Romeinse Ryk*, geleë op sewe heuwels en aan die Tiberrivier. Die tradisionele stigtingsdatum is 753 vC. Rome bevat ’n rykdom argeo­logiese* skatte, hoewel baie deur die eeue vernietig is. Dit was nie alleen die politieke en ekonomiese sentrum van die ryk nie, maar ook ’n kulturele sentrum.

Die Via Appia waarlangs Paulus* Rome van die suide af bereik het (Hand 28:14-31), is reeds in 312 vC gebou, en gedeeltes daarvan bestaan vandag nog. Veral onder keiser* Augustus* (30 vC–14 nC) bring die relatiewe vrede (Pax Romana) en voorspoed groot kulturele opbloei. Letterkunde en kuns floreer en groot bouwerke kom tot stand, soos die Kolosseum waar 50 000 toeskouers gevegte tussen gladiators en tussen mense en diere kon aanskou, en waar talle Christene* ook gesterf het. Die Forum Romanum met talle winkels, tempels en standbeelde was die godsdienstige, politieke en handelsentrum van Rome. Titus se Triomfboog (80 nC) aan die einde van die Forum met onder andere ’n afbeelding van ’n Joodse sewearmige kandelaar, herinner aan Titus se verowering van Jerusalem* (70 nC). Die Panteon (“al die gode”) was ’n tempel ter ere van onder andere die gode Mars en Venus, ’n merkwaardige argitektoniese skepping waaarvan die halfsirkelvormige koepel as model ge­dien het vir baie latere Christelike bouwerke.

Rome is ook bekend vir sy netwerk van ondergrondse begraafplase (katakombes) wat nog tot 200 nC deur nie-Christene gebruik is, maar daarna veral deur Christene. Daar is ongeveer 100 kilometer katakombes waar ongeveer 500 000 mense begrawe is, ook Jode* en ander godsdienstige groepe.

Vir verdere lees: AB du Toit (red) 1988. Handleiding by die Nuwe Testament II. Pretoria: NGKB. Andrie du Toit 2004. Beleef God se genade. Wellington: Bybelkor.

 

Sidebar