ROMEINE, DIE BRIEF AAN DIE (BY­BELBOEK)

ROMEINE, DIE BRIEF AAN DIE (BY­BELBOEK), is sonder twyfel die invloed­rykste brief* wat ooit geskryf is. Dit het diep­grypend ingewerk op die geloof* en denke van Augustinus*, Luther*, Calvyn*, Barth* en talle ander Christene*. Paulus* skryf die Romeine-brief vanuit Kengreë, die oostelike hawedorp van Korinte*, in die win­ter van 55–56 nC. Dit word gerig aan die Christene in Rome*, wat in daardie stadium in verskillende huisgemeentes gegroepeer was.

Die belangrikste oorwegings vir die skryf van Romeine was die volgende: Voorop staan Paulus se voorneme om die evan­gelie* ook in die westelike deel van die Ro­meinse Ryk* te gaan verkondig. Hy wil by Rome uitkom en vir die Christene aldaar tot seën wees (1:11-13; 15:32), maar sy eintlike visier is op Spanje (15:24, 28). Hopelik sal die Romeinse Christene vir hom logis­tieke steun vir hierdie projek gee (15:24). Vir hom ’n groot probleem is dat hy nog nooit in Rome werksaam was nie. Die Romeinse Christen­gemeenskap val dus nie in sy apostoliese* gesagskring nie. Trouens, net ’n paar van hulle ken hom en sy evangelie. Sy bedie­ning sowel as sy evangelie is dus op die spel. Daarom beklemtoon hy sy apostoliese integriteit en goeie gesindheid (1:1-17; 15:14-33). Hy besef egter ook dat hy die essensie van sy evangelie ’n keer duidelik sal moet uitspel. So word Romeine ’n meer siste­matiese uiteensetting van Paulus se predi­king as enige van sy ander briewe. Hy moet egter ook nog aandag gee aan die gespanne verhouding tussen Joodse* (insluitend Joods-georiënteerde) en nie-Joodse Chris­tene (11:17-21; 14:1–15:13).

Rom 1:1-7 identifiseer die skrywer en die ontvangers en loop uit op ’n seëngroet*. Rom 1:8-12 is ’n danksegging vir die Chris­tene in Rome en beklemtoon Paulus se gebedsversugting om Rome te kan besoek. Rom 1:13-17 beskryf sy roeping* en formuleer die kern van sy evangelieverkondi­ging – wat terselfdertyd die brieftema uitmaak: Daar is redding* vir elkeen wat glo dat God skuldige mense vryspreek (1:16-17). (Kyk ook by: Geregtigheid van God.)

Die hoofbetoog val uiteen in twee hoof­dele, nl Rom 1:18–11:36 en 12:1–15:13. In 1:18–11:36 teken Paulus eers hoe alle mense, nie-Jode sowel as Jode, voor God skuldig staan en daarna hoe God elkeen wat glo, uit genade* vryspreek (1:18–4:25). In Rom 5–8 behandel hy die nuwe situasie van Christene, hulle vreugdes en hulle uitdagings, die mislukking van diegene wat die wet* op eie stoom probeer gehoorsaam, maar ook die triomf van ’n lewe deur die Gees*. Hoofstuk 9–11 beklemtoon dat daar ook vir die Joodse volk hoop is, maar dan nie langs ’n ander weg as die evangelie nie. Rom 12:1–15:13 stel die praktiese uitlewing van die evangelie aan die orde: eers ’n kaleidoskoop van fasette van Christene se lewe van dankbaarheid (12–13), en daarna hoe die “sterk” en die “swak” Christene teenoor mekaar behoort op te tree – nederig, sonder veroordeling en met wedersydse aanvaarding (14–15:6). Rom 15:7-13 sluit sowel die onmiddellik voorafgaande deel as die hele hoofbetoog af. Dit word ’n universele magnificat (lofsang) van volke wat hande vat om God te prys.

Rom 15:14–16:23 bevat eers belangrike mededelings en daarna ’n lang groetelys met ’n seëngroet. Ten slotte volg ’n treffende lofprysing* (16:25-27), maar dit is van later datum.

Sidebar