ROSEKRANS

ROSEKRANS, soms “die kompendium van die evangelie” genoem, is in die Kato­lieke Kerk* ’n gebedsmiddel om die gelo­wige te help in die bepeinsing van Chris­tus* se lewe en heilswerk, en die uit­werking daarvan in die geval van sy moeder Maria*. Dit bestaan uit twintig sg “geheimenisse” (na die inhoud) of “deka­des” (na die vorm), wat in vier groepe van vyf verdeel word. Dit begin by die blye ge­heimenisse: die engelboodskap, Maria*1 se besoek aan Elisabet*, Jesus* se geboorte, sy voorstelling, en sy terugvinding in die tempel. Daarna volg die liggewende gehei­me­nisse: Jesus se doop, die bruilof in Kana, die prediking van die koninkryk*, die verheerliking op die berg, en die instelling van die eucharistie*. Derdens kom die lydensgeheimenisse aan die beurt: Jesus se doods­angs in Getsemane*, die géseling, die bekroning met dorings, die dra deur Jesus van sy kruis*, en sy kruisdood. Die vierde siklus, die glorieryke geheimenisse, gaan oor Jesus se opstanding*, sy hemelvaart*, die koms van die Heilige Gees*, Maria se opname in die hemel* en haar bekroning in die hemel. In elke “dekade” word een “Ons Vader*”, tien “Wees gegroet Maria’s” en een “Eer aan die Vader” opgesê. Om die hande besig te hou en gemoedstilte te bevorder, beweeg die vingers oor ’n string krale wat hiervolgens in vyf “dekades” ingedeel is.

Vir verdere lees: B Hinwood 1982. More Answers to your Questions. Kaapstad: Human & Rousseau.

Sidebar