ROSSOUW, PIERRE

ROSSOUW, PIERRE (1925–) is op Ven­ters­burg gebore en ontvang sy opleiding as predikant* van die NG Kerk* in Stellenbosch. Later behaal hy DPhil aan die Uni­versiteit van die Oranje-Vrystaat en ThD aan die Potchefstroomse Universiteit vir Chris­­telike Hoër Onderwys (PU vir CHO)*. Hy begin sy bediening in Thaba ’Nchu en sit dit voort in Rouxville, Villieria, Drie Riviere en Klerks­dorp-Noord. Van 1980 tot sy aftrede in 1991 is hy die hoof-uitvoerende amptenaar van die Algemene Sinode en die direkteur van ekumeniese sake en inligting. Hy beïndruk met sy kennis oor en skakeling met die ekumene* wêreldwyd. Hy dien in die sinode* van Wes-Transvaal as skriba, moderator* en assessor (ondervoorsitter). Rossouw verteenwoordig die NG Kerk by talle konferensies en samesprekings in Suid-Afrika en in die buiteland. Die tyd vóór die aanvaarding van die beleidstuk Kerk en samelewing in 1986, en daarmee saam die NG Kerk se eerste duidelike afwy­sing van apartheid*, ervaar hy as baie traumaties. Daarna het die ekumeniese situasie van die NG Kerk begin verbeter. Hy ontvang die Orde vir Voortreflike Diens (Sil­wer) van die staatspresident.

Sidebar