ROTHMANN, MARIA ELIZABETH CHARLOTTE (MER)

ROTHMANN, MARIA ELIZABETH CHARLOTTE (MER) (1875–1975). Toe MER op 31 Oktober 1875 op Swellendam gedoop is, was dit met drie voorname, “MECR” dus, maar die “C” kom net voor op ’n paar amptelike dokumente wat sy onder­teken het. As “MER” het sy bekend geword: “MER was een van die vyf grootste Afri­kaners* van die 20ste eeu. Sy simboliseer daardie Afrikaners wat deur organisasies soos die ACVV* Afrikaners probeer inspi­reer het om self hulle armblankeprobleem op te los, maar ook in 1936 gevra het of Afrikaners net oor hulle eie armes bekommerd gaan wees” (Hermann Gilio­mee).

Rothmann is op Swellendam gebore, het daar grootgeword en mettertyd op Stel­lenbosch en Kaapstad gestudeer en gewerk. Sy het haar die armoede van Afrikaners aangetrek en iets daaraan probeer doen – sy het trouens die 5de deel van die Car­negie-kommissie se verslag oor Die armblankevraagstuk in Suid-Afrika (1932) ge­skryf – haar vir vroueregte beywer en ’n leidende rol in die ACVV gespeel. Die spanning wat tussen die ACVV en die NG Kerk* ontstaan het, het haar in ’n brief laat skryf: “Die Kerk wegstoot, kan ons nie … Met al sy verbrou en swakheid is hy nog ’n essensiële deel van ons … (Maar) ons moet versigtig wees om geen kans te gee aan die Kerk om seggingskap oor ons te kry nie.” Rothmann het baie in Die Burger en Die Huisgenoot geskryf. Stukke daarvan is opgeneem in die bundels Uit en tuis (1946) en So is onse maniere (1965). Van haar verhale is gebundel in Die gewers (1950), Kwartet (1957) en Vroue wat Jesus geken het (1965). Die verhouding tussen man en vrou en veral dié tussen moeder en dogter, susters en vriendinne is van die sentrale temas in haar werk. Sy het twee romans gepubliseer – Na vaste gange (1944) en Die eindelose waagstuk (1948) – en haar laaste werk is die outobiografiese vertelling, My beskeie deel (1972), wat uiteindelik ook ’n beeld gee van die Afrikaners se groeipad. Sy het haar soms krities oor aspekte van die apartheids­beleid* in Suid-Afrika uitgespreek. Vir haar was dit van groot belang dat die Afri­kaner­volk sou voortbestaan, maar dan in gereg­tigheid. Oor die godsdiens het Roth­mann haar selde in haar geskrifte uitgelaat, maar by geleentheid op ’n pertinente vraag ge­ant­woord: “Ag, daar is geskiedenisse en daar is Bybels, maar vir my is die Tien Ge­booie en die Bergpredikasie genoeg.” Haar lewensreël was: Kyk weg van jouself.

In 1950 was Rothmann die eerste vrou wat ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch ontvang het, en in 1953 is die Hertzogprys aan haar toegeken “op grond van al haar prosawerk en meer bepaald haar sketse, kortverhale en ver­tellings”.

Vir verdere lees: JC Steyn 2004. Die 100 jaar van MER. Kaapstad: Tafelberg.

 

Sidebar