ROU

ROU. Israeliete* het verskillende rougebruike gehad. Abraham* rou en huil oor Sara* (Gen 23:2). Dawid* en sy manskappe skeur klere, weeklaag en vas oor Saul* en Jonatan* (2 Sam 1:11); in sy rou oor Absa­lom* val Dawid op die grond (2 Sam 13:31). Die vrou wat koning Dawid besoek, het rouklere aangetrek en geen skoonheids­middels gebruik nie (2 Sam 14:2). Ander rougebruike was die strooi van as op ’n mens se kop, die slaan van die bors as teken van smart (Jes 32:12). Die wet* het priesters* verbied om aan die normale rougebruike deel te neem, maar dit moenie as morele afkeur van rousmart gesien word nie, eerder as ’n uitbreiding van priesters se op­drag om hulleself ritueel rein te hou – daar­om mag hulle hulleself nie verontreinig het deur ’n te noue assosiasie met die dood nie. Priesters mag bv nie naby ’n lyk gekom het nie (Lev 21:1). Maar vir beide Ou Testament* en Nuwe Testament* is rou ’n natuurlike en noodsaaklike uitdrukking van smart ná die afsterwe van ’n geliefde, ’n herinnering daaraan dat lewe as ’n gawe van God ge­sien is, en die rou oor ’n geliefde wat deur die dood weggeneem is, ook vir gelowiges ’n gepaste handeling is.

Vroeër was dit onder Afrikaners* die gebruik dat vroue ná die dood van ’n nabye familielid ’n tyd lank swart klere dra en mans ’n rouband. As die dienende predikant* van ’n gemeente* sou sterf, is die kansel* soms met swart of pers materiaal behang, so ook die kerkraadsbanke as ’n kerkraadslid* sou sterf. Dié gebruike het in die tweede helfte van die 20ste eeu grotendeels in onbruik geraak en daar word nog selde by wyse van kleredrag ens gerou. Sou ’n staatsman/vrou sterf, hang vlae egter steeds in openbare plekke halfstok as eerbetoon/rou.

Vir verdere lees: E Osswald 1970. “Rouw” in: B Reicke en L Rost (red), Bijbels-historisch woordenboek, deel 5. Utrecht: Het Spectrum.

Sidebar