ROUBORDE

ROUBORDE. Die gebruik van rou- of be­graf­nisborde – soms ook wapenborde ge­noem – by begrafnisse van vooraan­staan­de amptenare en die militêre gemeenskap het, soos verskeie ander sosiale en kerklike tradisies, die Kaap in die 18de eeu uit Nederland bereik. Dié vierkantige houtborde – meestal in geruite vorm – was met geskilderde familiewapens versier, met die oorledenes se voorname, familiename, rang, geboorte- en sterfdatum daarop. Die rouborde is destyds vooraan begrafnisstoete van vooraanstaandes gedra toe begrafnisse meer van ’n sosiale as kerklike geleentheid was en slegs op uitnodiging bygewoon kon word. Só ’n prosessie het gewoonlik van die huis van die oorledene na die begraafplaas beweeg sonder ’n roudiens. Daar is soms ook ge­bruik gemaak van gehuurde “huilebalken” wat vooraan ’n stoet met die naasbestaandes saamgeween het. Daar was ook trompsluiters of tropsluiters as agterhoede wat soos die “lijkdragers” en begrafnisgangers meestal in swart geklee was. Die rouborde vooraan die prosessie het verseker dat die gemeenskap bewus was van wie begrawe word. Die borde is hierna teen betaling teen binnemure van kerke aangebring – daar word bv nog sewentien van dié borde in die Groote Kerk in Kaapstad bewaar. Dit sluit die roubord van luitenant Wynand Muys in met onder meer drie muisies op sy familiewapen. Muizenberg is waarskynlik na hom vernoem. Die Kaapse Argief­be­waar­plek huisves ’n unieke roubord van die Klerck-familie. In die Moe­derkerk op Stel­len­bosch is verskeie ge­brandskilderde glasruite vir dieselfde doel aangebring. Die bes bewaarde begrafnisruit is dié van Sibilla Pasman.

Vir verdere lees: George Hofmeyr (hoof­red) 2002. NG Kerk 350: Eenhonderd bakens in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1652–2002. Welling­ton: Lux Verbi.BM.

Sidebar