ROUSSEAU, JEAN JACQUES

ROUSSEAU, JEAN JACQUES (1712–1778) is in Genève gebore. Sy ma is met sy geboorte oorlede en hy is deur sy pa grootgemaak totdat hy tien was. Toe het sy pa hom eenvoudig aan sy lot oorgelaat toe sy pa uit Genève moes vlug weens ba­kleiery. Sy hele lewe lank bly Rousseau ’n swerwer van die een stad na die ander. Hy lees geweldig baie en word invloedryk in Europa vanweë die idees wat hy in sy kleurryke en stylvolle geskrifte verkondig. Hy raak aanvanklik bekend deur sy antwoord op die prysvraag van die Akademie van Lyon: Het die herstel van die kunste en die wetenskappe bygedra tot die verslegting of verbetering van die sedes? (1749). Hierna volg onder meer Contract Social wat begin met die woorde: “Die mens word vry gebore, maar is oral in kettings”. Hy was ’n voorstander van regstreekse demokrasie. Sy werk Emile gee ’n uiteensetting van sy idees oor opvoedkunde. Sy denke in La nouvelle Heloïse getuig van skeptisisme en kritiek teen die Westerse samelewing wat hy beskou as ’n verwording van die natuurlike voorwaardes vir bestaan. Rousseau, wie se denke ’n groot invloed op die leiers van die Franse Rewolusie gehad het, het geglo mense word deur die moderne beskawing gekorrumpeer en dat hulle na ’n meer premoderne, natuurlike toestand moet streef.

Vir verdere lees: J Waterink 1959. Chris­telijke Encyclopedie, deel 5. Kampen: Kok. Dagobert D Runes 1964. Dictionary of Philo­sophy. Paterson, New Jersey: Little­field, Adams & Co.

Sidebar