ROUSSEAU, MARTHINA CORNELIA (INA)

ROUSSEAU, MARTHINA CORNELIA (INA) (1926–2005) is in Roodepoort gebore, gaan skool op Krugersdorp, en studeer op Stellenbosch – onder meer Afrikaans onder prof FEJ Malherbe. Voor sy Stellenbosch verlaat het, was sy deel van die redaksie van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) – ’n spel met woorde wat haar eindeloos gefassineer het. Daarna is sy na Gra­hamstad, waar sy haar toekomstige man, Anthony Noël, ontmoet het. Feitlik al haar digbundels is aan hom opgedra, al is dit net met voorletters aangedui. Uiteindelik het hulle hulle op Pietermaritzburg gevestig, waar haar man hoogleraar in geologie was. Haar debuutbundel, Die verlate tuin, verskyn in 1954, en sestien jaar later Taxa, ge­volg deur Kwiksilwersirkel (1978), Heuning­steen (1980), Versamelde gedigte 1954–1984 (1984), Grotwater (1989), ’n Onbekende jaartal (1995) en Die stil middelpunt (2003). In Taxa is die kern van die bundel die liefde tussen man en vrou, vrou en God en God en mens, terwyl Bybelse* gegewens ook in haar ander bundels en verse ’n rol speel – vgl “Die verlore seun” in Versamelde gedigte, selfs “Die seuns en die dogters van die mense” in Die stil middelpunt. Ina Rousseau is ’n wenner van die Hert­zog­prys vir haar digwerk. Sy het ook twee bydraes tot Liedboek van die kerk gemaak – Lied 459 en 521, eersgenoemde met die aangrypende vierde strofe: “Ons dank U, Vader, vir u goedheid,/vir al wat ons van U ontvang:/die aardse lewe met sy soetheid, maar ook die pynlikheid daarvan./Ons loof U vir wat heerlik is,/selfs in ons smart en duisternis”.

Sidebar