ROUX, PAUL HENDRIK

ROUX, PAUL HENDRIK (1862–1911) het sy skoolopleiding aan die gimnasium in die Paarl ontvang en daarna op Stel­len­bosch vir predikant* gaan leer. Hy word in 1889 predikant van Vredefort en neem later ’n beroep na Senekal aan. Terwyl hy daar was, breek die Anglo-Boereoorlog* uit. Hy word kommandolid en is gou deur genl Chris­tiaan de Wet* as veggeneraal aange­stel. In 1900 is hy saam met genl Marthinus Prinsloo en 3 000 ander burgers gevang en na die konsentrasiekamp by Diyatalawa in Ceylon (deesdae Sri Lanka) gestuur. Hy het daar onder meer opgetree as voorsitter by die viering van Dingaansdag (Geloftedag*). Die tema van sy toespraak was dat die Afrikaners* van hulle vaders se weë afge­dwaal het en dat hulle hulle herkoms moet onthou en eer. Die debat het ook gegaan oor die vraag of Nederlands of Afrikaans* “ons taal vir die toekoms” moet wees. Die oorgrote meer­der­heid van die krygsgevangenes het na afloop van die besprekings vir Afrikaans gestem. Dit was ook in hierdie tyd dat daar onder die Ceylonse Boerekrygsgevangenes ’n groot geestelike herlewing plaasgevind het. Ná die oorlog het hierdie dominee-generaal in 1905 predikant van Beaufort-Wes geword waar hy ook oorlede is.

 

Sidebar