RUPERT, ANTHONY EDWARD (ANTON)

RUPERT, ANTHONY EDWARD (ANTON) (1916–2006) het in 1939 aan die Universiteit van Pretoria ’n MSc in toe­gepaste chemie behaal en was daarna vir ’n paar jaar lektor in die chemie-departement. Hy word toe hoof van die kleinsake-afde­ling van die Reddingsdaadbond, wat die Afrikaners* ná die Depressie van die 1930’s ekonomies ondersteun het – onder meer met die oog op ’n groter aandeel in die eko­nomie. Rupert registreer in 1941 sy eie Voor­brand-Tabakmaatskappy nadat hy ’n insolvente tabakfabriek oorgeneem het. Sy twee vennote was drr AJ Stals en N Diederichs. Hy kon self slegs £10 tot die aanvangkapitaal bydra. Die Rembrandt-Groep, Rupert se in­ter­nasionale sakeryk, het hieruit gegroei. Rupert se fokus was uit die staanspoor deel­ge­nootskap in die praktyk: vir hom het ven­noot­skappe (nasionaal en internasio­naal) maatskaplike medeverantwoordelik­heid geïmpliseer, wat naas integriteit en be­troubare dienslewering, sakesukses sou ver­se­ker. Hierdie siening het uit sy Calvi­nistiese* lewensbeskouing gespruit, met die klem op eerlikheid, hardwerkendheid en so­ber­heid.

Hy en sy vrou, Hubért, se wye belangstel­ling en passie word onder meer weerspieël deur die Rupert-gesinstigting. Dit bestaan uit vyf familie-trusts wat die kunste, mu­siek, bewaring van historiese huise, natuur­bewaring en onderwys bevorder. Dié stig­ting word uitsluitlik deur die gesin gefinansier. Rupert het ’n lewenslange belangstelling in die behoud van historiese ge­boue gehad wat gelei het tot die totstandkoming van Historiese Huise Beperk. In later jare het sy betrokkenheid by die be­waring van die natuurlike omgewing gelei tot sy unieke konsep van wildreservate en -parke oor nasionale grense heen – gepas bekend as “vredesparke”. Rupert het vyf ere­dok­torsgrade en verskeie erelidmaa­t­skappe en toekennings ontvang en is onder meer aangewys as “Tukkie van die Eeu” (2000). Hy het by geleentheid met dr Hendrik Verwoerd* gebots oor die toepassing van apartheid* en is bekend vir sy uitspraak dat ’n mens nie kan slaap as ander hongerly nie.

Vir verdere lees: E Dommisse met mede­werking van W Esterhuyse 2005. Anton Rupert: ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafel­berg.

Sidebar