RUST, WILHELMINA (WINNIE)

RUST, WILHELMINA (WINNIE) (1939–2016) is ’n getoë Wellingtonner wie se belangrike roman, Martha, in 2004 verskyn het. Hierdie werk oor Martha Solomons, “Countess of Stamford”, is in literêre kringe positief ontvang en is ’n  romanmatige weergawe van ’n merkwaardige stuk ge­skiedenis. Martha Solomons was ’n eenvoudige vrou, die dogter van ’n vrygestelde slaaf, en Harry Grey ’n gewese priester uit die Britse adelstand wat weens wangedrag na die Kaapkolonie gestuur is. ’n Sonder­linge liefdesverhouding het tussen hulle ont­staan. Rust se roman meng feite en fiksie. ’n Groot deel van die verhaal speel op Wellington af waar Martha en Harry die ontwikkeling van dié kerkdorp meemaak – van die godsdienstige “Revival” en die optrede van die Wederdopers, tot die koms van Andrew Murray*2 en die stigting van die Hugenote-seminarie vir die opleiding van dogters. In die verhaal speel godsdiens­tige motiewe deurgaans ’n rol, en die rasse­kwessie is altyd in die agtergrond. Op die ou end is daar “revival” in die verskillende karakters se lewe. En Martha stel in Wyn­berg grond beskikbaar vir ’n skool vir wit en bruin: “Geen kind mog weggewys word nie.” Nog romans van Rust, is “Trek” en “Katrien”.

Rust het ook Bybelstudiegidse vir vroue en dogters geskryf wat deur Bybelkor* gepubliseer is, bv Vrou 2000: Voluit vrou vir vandag, en Liewe Dagboek. Daarby het sy ’n aantal van Andrew Mur­ray se werke in Afrikaans* vertaal. Winnie Rust is in 2016 in haar huis op Wellington vermoor deur ‘n seun vir wie sy tot in daardie stadium finansieel en andersins ondersteun het. ‘n Spesiale Andrew Murray-toekenning* is in 2017 nadoods aan haar gemaak.

Sidebar