RUT (BYBELBOEK)

RUT (BYBELBOEK) is ’n kortverhaal wat dateer uit die na-ballingskaptyd in Israel*. Tot vandag toe word hierdie boek in die Joodse* tradisie gelees tydens die oes­fees* (Kyk ook: Megillot).

Die verhaal: Die boek Rut vertel die verhaal van God se ongelooflike sorg vir twee weduwees. Naomi*, wat saam met haar man en twee seuns in Moab* geleef het, word ná haar man en twee seuns se dood alleen agtergelaat saam met haar twee Moabitiese skoondogters. Sy besluit om terug te gaan na Juda* toe omdat sy gehoor het dat God kos voorsien het (Rut 1:6). Naomi stuur haar skoondogters terug na hulle eie families toe, en alhoewel Orpa* gehoor gee, weier Rut* om haar skoonma agter te laat. So gaan die twee weduwees terug na Juda toe, en ontvou hulle verhaal as ’n pragtige voorbeeld van die troue liefde tussen die twee vroue, een ’n Israeliet en een ’n vreemdeling – nogal ’n Moabiet wat deur die meeste Israeliete verafsku is. Ons sien hoe hierdie twee vroue ’n uitweg vind in ’n wêreld wat nie te vriendelik was teen­oor vroue sonder mans nie.

Ons lees hoe Rut en Naomi hulleself met hulle terugkeer in Juda op die randjie van hongersnood* bevind. In ’n poging om te oorleef, stuur Naomi vir Rut na die veld van Boas* waar sy as ’n arm vreemdeling geregtig is op die voorsiening wat gemaak is vir die behoeftiges van die samelewing om die oorskiet koring, olywe en druiwe op te tel nadat die oes afgehandel is (Deut 24:19-22). Boas gaan selfs verder as wat van hom verwag word en gee vir Rut ’n oormaat kos – genoeg vir haarself en vir haar skoonma.

Maar hierdie wette wat voorsiening maak vir die behoeftiges, bied net ’n korttermynoplossing wat vir die paar weke ná die oes duur. Weer eens maak Naomi ’n plan en stuur vir Rut terug na Boas se veld toe waar Rut vir Boas moet vra om homself oor die twee weduwees te ontferm. Boas stem in om as Rut se “losser” op te tree – ’n Israelitiese gebruik waar ’n manlike familielid homself ontferm oor die weduwee van sy naby familie. Op hierdie manier bied Boas aan Rut en haar skoonma ’n toekoms wanneer hy met haar trou en sy ’n seun in die wêreld bring – ’n seun wat volgens die geslagsregister waarmee die boek eindig, die oupa van koning Dawid* ge­noem word. Rut, die Moabiet, word dus deel van die koninklike familie wanneer sy die oumagrootjie van koning Dawid en so ook ’n voormoeder van Jesus* (Matt 1) word.

Die boodskap: Die boek Rut gee aan ons ’n visie van God se vrederyk. Dit is ’n gemeenskap waar niemand sonder ’n heenkome gelaat word nie, waar almal genoeg het. Dit is ’n gemeenskap waar oud en jonk ingesluit is, waar die vreemdeling wat mense gewoonlik uitstoot, opgeneem en selfs deel van die koninklike familie word. Hierdie tema is veral merkwaardig as ’n mens in ag neem dat twee boeke wat waarskynlik uit dieselfde tyd as Rut dateer, naamlik Esra* en Nehemia*, baie anders oordeel oor “gemengde huwelike” (kyk na Esra 10:3; Neh 13:25).

Die verhaal van Rut gee vir ons ’n alternatief hoe om oor die vreemdeling in ons midde te dink. Dit verwoord iets van die hoop op ’n andersoortige heerskappy wat koning Dawid moes vergestalt: ’n koning wat iets van God se vrederyk laat geld, waar vreemdelinge welkom voel, en waar vir armes voorsiening gemaak word.

 

Sidebar