RYKDOM

RYKDOM is ’n gawe* van God (Pred 6:18). Om rustig “onder die wingerdstokke en die vyebome” te sit (Sag 3:10) en kinders te hê (Ps 127:3), is deel van ’n geseënde lewe. ’n Geseënde lewe sluit rykdom in, maar kan nie daarmee geïdentifiseer word nie. Dit is nie ’n beloning vir ’n goeie lewe nie. Goddeloses beleef soms voorspoed en regverdiges swaarkry (Ps 73).

Tevredenheid en mededeelsaamheid is die houding van mense* wat die Here* vertrou en hulle medemens liefhet (Heb 13:5; 1 Tim 6:18). Ons deel ons besittings met armes, omdat ons die koninkryk* ontvang het (Luk 12:32-24).

Rykdom word nie in die Bybel* veroor­deel nie, maar die verkeerde gesindheid ten opsigte daarvan wel. Rykdom wat deur uitbuiting bekom is, grief die Here (Jak 5:1-6). Die ryk dwaas gaar koring op weens sy gierigheid en selfgerigtheid (Luk 12:13-21). Mense het hulle wat koring opgegaar het, vervloek (Spr 11:26), omdat hulle later ’n onbetaalbare prys gevra het wanneer daar nie meer koring was nie. So is die kos uit die mond van armes geneem. Rykdom en gierigheid kan ons aandag verdeel en afvalligheid veroorsaak (Pred 5:9: Matt 6:19-24; 1 Tim 6:9-10, 17). Rykdom word ’n struikelblok en “sonde*” as dit jou aandag en tyd so gevange hou dat dit jou keer om Christus* onvoorwaardelik na te volg (Kyk by: Navolg) (Mark 10:17-31; Luk 18:18-25; 14:25-33; 14:18-19).

 

 

Sidebar