SAAI, JOSHUA ELISA ISHOLIBO

SAAI, JOSHUA ELISA ISHOLIBO (1911–1987) was een van die eerste groep van vier kandidate wat in Nigerië as vrug van die NG Kerk* se sending* onder die Tiv* – ook bekend as die Soedan-sending – as predikant* opgelei is. Hy word groot naby Salatu-stasie, waar hy ook aanvanklik skoolgaan. Nadat die stasie in 1926 gesluit is, ontstaan daar ’n geestelike ontwaking by hom en begin hy en ander om onder hulle eie mense Bybel*klasse en later katkisasie (Kyk by: Kategese) te hou, aanvanklik sonder die wete van die sendelinge*. Hierdie spontane inisiatief word die deurbraak vir die evangelie* onder die Tiv. In 1937 word hy gedoop*. Nadat hy vir meer as tien jaar as evangelis gedien het, word hy tot die bediening toegelaat en vroeg in 1957 as predikant georden*, dieselfde jaar dat die Tiv-kerk amptelik in sinodale verband gestig is. Hy dien etlike kere as moderator* van die sinode*. Nadat die NG Kerk die werk in Nigerië in 1961 aan die Christian Reformed Church van Amerika oorgedra het, besoek hy Suid-Afrika nog twee maal.

Vir verdere lees: EN Casaleggio 1965. Die land sal sy vrug gee: Vyftig jaar van sendingwerk in die Soedan. Kaapstad: ASK. JM Cronje 1981. Aan God die dank: Geskiedenis van die sending van die Ned Geref Kerk, Deel 2. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar