SAAMWOON

SAAMWOON. Die term “saamwoon” sou bloot “gemeenskaplike akkommodasie” kon beteken, maar het die betekenis verkry van ’n paartjie wat ’n woonplek deel en emosioneel en seksueel by mekaar betrokke is, dog hulle nie wetlik of in die openbaar uitsluitlik aan mekaar verbind het nie. Party paartjies woon net ’n tydjie saam, ander jare lank. Wanneer so ’n huishoudelike reëling die vlak van ’n verbygaande seksuele verbintenis deurbreek, word dit as ’n gemeenregtelike of informele huwelik* beskou. Redes vir “saamwonery” sluit in dat die paartjie die huwelik as instelling verwerp, dat die paartjie onwillig is om hulle tot ’n wetlike, openbare en permanente verhouding te verbind, dat die betrokkenes dit graag wil “uittoets” voordat hulle hulle in ’n wetlike huwelik begeef, of eenvoudig dat mense ’n seksuele verhouding van ’n semipermanente aard wil geniet sonder om hulle emosioneel of wetlik aan een spesifieke persoon te verbind. In samelewings waar die uitbuiting van vroue algemeen is, verkies sommige vroue – as hulle ekonomiese omstandighede dit toelaat – om tydelike minnaars te neem en kinders by hulle te hê eerder as om te trou. Sulke enkelouerfamilies kan negatiewe emosionele en sosiale gevolge inhou vir die ouer, die kinders en die familie. Terwyl saamwonery al hoe meer by baie mense die praktyk word, en dit soms in die geval van ouer persone om goeie finansiële redes voorkeur geniet, is daar vanuit Christelik-etiese hoek geregverdigde vrae. Dit is die geval omdat die formele wetlik-erkende huwelik steeds beskou moet word as die aanvaarbaarste ruimte waarbinne mense hulle eenheid as lewensmaats kan geniet. (Kyk ook: Voorhuwelikse geslagsgemeenskap*).

 

Sidebar