SABBAT

SABBAT. In die Ou Testament* word daar ’n week van sewe dae veronderstel en Israeliete* was verplig om ná ses dae se werk op die sewende dag te rus. Die Hebreeuse* werkwoord ten grondslag van die begrip “sabbat” word met “ophou, staak” vertaal en daar is ook ’n moontlike verband met die Akkadiese* woord vir “sewe” (sibbitîm).

Verskillende redes word vir die hou van die Sabbat aangevoer:

  1. Volgens Gen 2:1-3 het God ná ses dae se skeppingsarbeid op die sewende dag gerus en Israel moet rus soos God gerus het. Dieselfde begronding van die Sabbatsrus word in Eksodus* se Tien Gebooie* verskaf (Eks 20:8-11).
  2. Tydens Israel se omswerwings in die woestyn word hulle beveel om vir vyf dae genoeg manna op te tel vir die volgende dag se gebruik. Dit was noodsaaklik om op die sesde dag twee maal soveel manna* op te tel sodat hulle op die sewende dag kon rus (Eks 16:22-30).
  3. In Deuteronomium* se Tien Gebooie word die Sabbatsrus in die lig van die uittog* en die verlossing uit Egipte* gemotiveer (Deut 5:12-15). In die tempel* moes daar op die Sabbat twee keer soveel offers as op die ander dae gebring word (Num 28:9-10).

Die Sabbat soos dit in die ou bedeling van die Ou Testament voorgeskryf en gehou is, is, nes ander Ou-Testamentiese feesdae, nie meer van toepassing in die nuwe bedeling nie. (Kyk ook: Feeste en: Sondag.)

 

Sidebar