SABBATSJAAR

SABBATSJAAR. Streng gesproke word die begrip “Sabbatsjaar” net in Lev 25:1-7 gebruik. In hierdie jaar mag daar nie gesaai of geoes word nie. Die jaar beteken algehele rus vir die land en die “randfigure” mag dan leef van die lande (lees Lev 25:6-7). Soos die sewende dag of Sabbat*, moes die sewende jaar ook spesiaal aan Jahwe* gewy wees.

Die teks in Levitikus* volg heel waarskynlik op ander tekste soos Eks 23:11, waar die land ook elke sewende jaar moet braaklê, en Deut 15:2-18 waar skuld afgeskryf en slawe vrygelaat moet word in die sewende jaar. In Lev 25 (lees vers 8-55) gebeur lg net elke 50 jaar tydens die Jubeljaar* (of “Hersteljaar” in 1983-Afrikaanse Vertaling).

Dit is moeilik om te sê of dit ooit in Ou Israel* plaasgevind het. Aan die een kant is daar tekste waar slawe vrygelaat is, soos Jer 34:8-22 en Neh 5, maar hier word die woord “Sabbatsjaar” nooit gebruik nie en dit het klaarblyklik ook niks met ’n sewejaarsiklus te doen nie. Aan die ander kant is daar ’n teks soos Lev 26:34-43 waar die ballingskap* juis verstaan word as ’n straf vir die feit dat die land nooit Sabbatsjare geniet het nie.

Die Sabbatsjaar se doel was sosio-ekonomies van aard om oorlewing vir die weerlose mense in die samelewing makliker te maak. In Lev 25 word dit teologies gemotiveer deur te sê dat Jahwe eintlik alle grond (vers 23) en alle Israeliete (vers 55) besit en daarom moet land en mense beskerm word.

 

Sidebar