1 EN 2 SAMUEL (BYBELBOEKE)

1 EN 2 SAMUEL (BYBELBOEKE). Samuel* was nie die skrywer van die twee Samuelboeke nie en hy is ook nie die hoofkarakter daarin nie. 1 Samuel begin wel met sy ma, Hanna*, se hartseer oor haar kinderloosheid. By die heiligdom in Silo* smeek sy vir ’n kind. Die priester Eli* verseker haar dat haar gebed beantwoord sal word. Dit gebeur met die geboorte van Samuel.

Sy geboorteverhaal is een van drie wat by die aanvang van groot epogte in Israel* se geskiedenis staan: Isak* s’n aan die begin van die aartsvadergeskiedenis, Moses* s’n aan die begin van die nasionale geskiedenis en Samuel s’n aan die begin van die koningsgeskiedenis.

Inhoud: Die Samuelboeke bevat verhale oor ’n periode van groot veranderings in Israel. Dit is die oorgang van die rigterstydperk na die era van die konings. Trouens, in die Septuaginta* (die ou Griekse* vertaling van die Ou Testament*) en die Vulgaat* (die ou Latynse vertaling) word dit “1 en 2 Koninkryke” genoem, en wat ons vandag as 1 en 2 Konings* ken, is daar “3 en 4 Koninkryke”. In die driedelige samestelling van die Hebreeuse* Bybel wat uit die wet*, profete* en geskrifte* bestaan, is dit deel van die profete. Die groot rol wat profete in hierdie boeke speel, maak dit verstaanbaar waarom die Jode* dit onder die Vroeë Profete gegroepeer het.

Die verhale van Samuel, Saul* en Dawid* oorheers die inhoud van 1 Samuel, terwyl 2 Samuel volledig oor Dawid handel. Die verhaalkomplekse van die drie is nie afgeronde en afsonderlike eenhede nie, maar oorvleuel met mekaar en elkeen van die drie figure speel ’n groot rol in die geskiedenis van die ander twee.

Die drie verhaalsiklusse is die volgende:

  1. Samuel: 1 Sam 1–25 (sy gees word weer in hoofstuk 28 opgeroep)
  2. Saul: 1 Sam 9–31
  3. Dawid: 1 Sam 16–31 en 2 Sam 1–24

Samuel was ’n belangrike figuur in die vroeë geskiedenis van Israel. Hy was ’n profeet* (1 Sam 3:20), asook leier, priester* en regter (1 Sam 7:15-17). Die Samuelverhale in 1 Sam 1–3 en 7 omraam die verhale oor die ark* van die verbond in 1 Sam 4:1–7:1. (Die tema van die ark word eers weer in 2 Sam 6 opgeneem.) 1 Sam 8–12 handel oor die ontstaan van die koningskap in Israel. Samuel beskou dit as ’n verwerping van sy leierskap, maar die Here verseker hom: “Hulle het jóú nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle” (1 Sam 8:7).

Samuel het die eerste twee konings, Saul en Dawid, albei aangewys en gesalf, voordat hulle later in die openbaar koning gemaak is (Saul: 10:1 en 10:24; Dawid: 16:13 en 2 Sam 2:4).

Daar is ’n anti-koningskap- én ’n pro-koningskap-tradisie in hierdie verhale, wat mekaar afwissel:

1 Sam              8:1-22                 anti-koningskap

9:1–10:16           pro-koningskap

10:17-27             anti-koningskap

1:1-15                 pro-koningskap

2:1-15                 anti-koningskap

Saul is die eerste koning wat die Here vir Israel aangewys het. Ook in verband met Saul se koningskap is daar twee tendense. Daar is ’n positiewer tendens, wat soms as ’n ouer tradisie beskou word, en ’n jonger, meer negatiewe tendens, moontlik geskryf deur ’n skrywer wat Dawid gunstig met Saul wou vergelyk. Samuel het Saul byna deur sy hele regeringstyd begelei. Hy het Saul aangewys as eerste koning (1 Sam 10:1), maar het ook aangekondig dat God Saul verwerp het (1 Sam 15:22-23).

Dawid is die derde hooffiguur in die twee Samuelboeke. Nadat Samuel aan Saul bekend gemaak het dat die Here hom as koning verwerp het, is Samuel na Betlehem* toe om daar een van Isai* se seuns as Saul se opvolger aan te wys (1 Sam 16:1-13). Van toe af het Saul en Dawid se paaie gereeld gekruis. Die parallelle geskiedenis van Saul en Dawid beslaan 1 Sam 16–31. Dawid het in Saul se huis vir hom musiek gemaak om hom te kalmeer (16:14-23). Dawid verslaan die reuse Filistynse* soldaat Goliat*, wat Saul se soldate uitgedaag het (17:1-58). Dawid raak ten nouste betrokke by Saul se huis- en gesinsake: hy bly in Saul se huis, trou met Saul se dogter Mikal, word boesemvriende met sy seun Jonatan* en word uiteindelik ’n vyand van Saul (18:1–20:43). As vlugteling het Dawid ’n bende vegters om hom versamel en in die suide en oorkant die Jordaan* rondgeswerf. By geleentheid het hy Saul se lewe gespaar toe hy hom kon doodmaak, maar Saul het hom steeds vervolg (21:1–26:25). In ’n stadium het Dawid by die Filistyne in Gat* gebly en die dorp Siklag as tuiste ontvang. Toe het Saul opgehou om hom te vervolg (27:1–30:31). Saul sterf uiteindelik in ’n geveg teen die Filistyne op Gilboa* (31:1-13).

Ná Saul se dood word Dawid eers in Hebron* koning van Juda2*. Saul se seun, Is-Boset* word koning van die noordelike stamme, maar word ná twee jaar vermoor. Dit lei tot Dawid se kroning as koning oor die hele Israel (2 Sam 5:1-5). Hy verower die Kanaänitiese stad Jerusalem* met sy eie soldate en maak dit die nuwe hoofstad van die Verenigde Koninkryk. As teken dat dit ook die plek is waar God Hom vestig, verskuif Dawid die ark* van die verbond na Jerusalem* (2 Sam 6).

Na heelwat militêre sukses regeer Dawid oor ’n groot gebied wat Edom*, Moab* en Aram* ingesluit het. Dit was die goue era van Dawid se regering (2 Sam 8).

Ná sy owerspel met Batseba*, die vrou van Urija*, een van sy militêre offisiere, en die moord op Urija, verander baie dinge vir Dawid (2 Sam 11). Die profeet Natan* lei Dawid om ’n oordeel oor homself uit te spreek en deel hom mee: “So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring” (2 Sam 12:11).

2 Sam 9–20 beskryf hoe Dawid se sonde rampspoed oor sy gesinslewe en koningskap bring. Hy moes selfs tydelik uit Jerusalem vlug, terwyl sy seun Absalom* effektief ’n staatsgreep uitgevoer het (15:1-37).

Afsluiting: 2 Sam 21–24 handel oor die afsluiting van Dawid se regering en eindig op ’n laagtepunt, waar Dawid ’n offer moes bring om te vergoed vir sy sonde van ’n volksensus.

Vir verdere lees: HL Bosman en JA Loader (red) 1987. Vertellers van die Ou Testament: Die literatuur van die Ou Testament. Deel 2. Kaapstad: Tafelberg. C Westermann 1967. Handbook to the Old Testament. Londen: SPCK. WS Boshoff, EH Scheffler en IJJ Spangenberg 2000. Ancient Israelite Literature in Context. Pretoria: Protea.

 

Sidebar