SADDUSEëRS

SADDUSEëRS is een van die Joodse* “partye” (Hand 5:17) in Jesus* se tyd. Ons weet minder van die Sadduseërs as van die Fariseërs*. Verskillende etimologiese verklarings word vir hierdie naam gegee. Sommige lei dit af van tsaddiq (Hebreeus* vir ’n regverdige persoon) ander van Sadok*, die hoëpriester* in Salomo* se tyd. Volgens Nuwe-Testamentiese* getuienis (bv Matt 3:7; 16:1; 22:23-34) glo die Sadduseërs nie aan die opstanding* uit die dode* nie. Dit klop met wat ons elders lees, naamlik dat die Sadduseërs net die eerste vyf boeke van die Ou Testament* (“die wet*”) as gesaghebbend beskou het, waarin daar nie direkte getuienis van ’n opstanding* uit die dood* is nie. In hierdie gradering van die wet bó die profete* en wysheidsgeskrifte van die Hebreeuse Bybel*, was die Sadduseërs nie die uitsondering nie – dit is steeds die standpunt van die hedendaagse Judaïsme*. Buitebybelse bronne oor die Sadduseërs is skaars: Josefus* (BJ 2:8, 14; Ant 13:5, 9; 10:6; 18:1, 4; 20:9) se oordeel is negatief, maar nie objektief nie, want Josefus was ’n Fariseër. Die Misjna* (Erubin 6:2; Makkot 1:6; Parah 3:3, 6; Nidda 4:2; Yadaim 4:6-8) se getuienis is insiggewend, want dit wys dat die Sadduseërs nie net ’n priesterlike* klas was nie, maar ’n eie interpretasie van die wet gehad het.

 

Sidebar