SADOK

SADOK was een van twee priesters* (saam met Abjatar*) wat in die tyd van Dawid* in die tempel* in Jerusalem* gedien het. Omdat Abjatar ’n ander kandidaat as koning gesteun het (1 Kon 1–2), het Salomo*, Dawid se opvolger, hom uit Jerusalem verban. Sadok het daarna alleen die amp van priester* beklee. Die nakomelinge van Sadok het waarskynlik vir lank ’n magsmonopolie oor die priesterskap behou – ten minste tot met die ballingskap*2 in 586 vC (ook nog so by die profeet Esegiël* wat die Sadokiete beklemtoon ten koste van die Levitiese* priesters).

Sadok duik skielik in die Bybelse* geskiedenis in 2 Sam 15:24-29 op. Die Deuteronomistiese geskiedeniswerk* bied geen geslagregister vir hom aan nie. Kronieke* vermeld hom wel in geslagslyste (1 Kron 6:8, 53 en 24:3). Uitleggers meen dat Sadok waarskynlik vóór Dawid se tyd ’n priester in Jebus* was. Hoewel hierdie teorie deur sommige betwyfel word, is daar heelwat moderne uitleggers wat dit met goeie argumente ondersteun. Dawid se aanstelling van ’n Jebusiet as priester was waarskynlik in ooreenstemming met sy beleid om die plaaslike inwoners by sy regering te betrek ter wille van goeie verhoudings.

Die naam Sadok is verwant aan die Hebreeuse woord vir “regverdigheid, geregtigheid”. Dit word ook as onderdeel in ander bekende name gevind, bv Melgisedek* (Gen 14:17-20) en Adoni-Sedek* (Jos 10:1, 3).

 

Sidebar