SADOLETUS, JACOBUS

SADOLETUS, JACOBUS (1477–1547) het ’n deeglike humanistiese opvoeding in Ferrara en in Rome* ontvang. Hy het die beskerming van kardinaal* Caraffa geniet wat hom as priester*2 ingeseën het. Hy was sekretaris by pous* Leo X*. In 1517 is hy benoem tot biskop* van Carpentras (by Avignon) waar hy slegs afwisselend gebly het. Hy was dikwels in Rome, veral ná sy bevordering tot kardinaal (1536) deur pous Paulus III. Sadoletus het sitting gehad in die kommissie vir die hervorming van die Katolieke Kerk* en vir die voorbereiding van die Konsilie. Saam met Contarini het Sadoletus behoort tot diegene wat gestreef het na versoening met die Protestante*. Hy het gepoog om Melanchthon* (1537) en Genève (1539) terug te wen vir die Katolieke Kerk. Sy brief aan Genève is deur Calvyn* in ’n uitvoerige geskrif beantwoord (1 September 1539). Dit word beskou as een van die beste apologieë van die reg van die Hervorming* teenoor Rome. Mede daardeur is Calvyn se terugkeer uit Straatsburg na Genève bewerkstellig. Sadoletus was by uitstek ’n vredesoeker. In sy opvattings het hy hom betoon as ’n volgeling van die optimistiese humanisme van die 15de eeu en ’n semi-pelagiaan*.

Vir verdere lees: D Nauta 1959. “Sadoletus, Jacobus” in: FW Grosheide en GP van Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, Deel 6. Kampen: Kok.

 

Sidebar