SAKRAMENTE

SAKRAMENTE. Die kerk* het twee genademiddele*: die Bybel* en die sakramente. Die sakramente dien as versterking van die geloof*. Dit is die middele waardeur die Heilige Gees* in ons werk (Artikel 33 van die Nederlandse Geloofsbelydenis*). Die sakramente en die Bybel is gelykwaardig in soverre dit genademiddele is, maar die sakramente is ondergeskik aan die Bybel in terme van gesag. Die sakramente kan nie sonder die Bybel bestaan nie. Net so kan die sakrament die geloof versterk, maar nie die geloof bewerk nie. Die Bybel ken nie ’n woord soos “sakrament” nie, maar dit het via die Vulgaat* se vertaling van die Griekse woord musterion met sacramentum in Latyn (Ef 5:32) in ons woordeskat ingekom. (In Ef 5 gaan dit egter nie oor sakramente soos ons dit bedoel nie.) Aan die begrip “sakrament” is kerklike en godsdienstige gebeure en handelinge gekoppel wat verband hou met die geheimenis van die geloof. Nog ’n beeld wat vir die sakramente gebruik kan word, is dié van ’n leermeester wat ’n mens op die regte pad moet hou.

Binne die Protestantse* kerke is daar twee sakramente, naamlik die doop* en die nagmaal*. Binne die Katolieke Kerk* is daar sewe. Naas die doop en die mis* (nagmaal), het die Katolieke Kerk die vormsel*, bieg*, huwelik*, priesterwyding en laaste oliesel*. Die doop en die nagmaal het teologies ontwikkel uit die Ou-Testamentiese besnydenis* en die Pasga*. Die sakramente word “tekens” en “seëls” genoem wat heenwys na Christus*. ’n Mens moet onthou dat die sakramente tekens of simbole is, maar dit word nie sélf die handeling wat dit simboliseer nie.

 

Sidebar