SALF

SALF. Om te salf, beteken letterlik om olie op iemand of iets te gooi of in te vryf. Salwing het soms gepaard gegaan met die sluiting van ’n ooreenkoms (Gen 28:18-22). Priesters* (Eks 30:30), profete* (1 Kon 19:16), plekke (Gen 28:18), die tabernakel* en toebehore (Eks 40:9-10), klere (Lev 8:30) en geëerde gaste is gesalf (Ps 23:5; Luk 7:46; Joh 11:2). Salwing het ook medisinale/helende en kosmetiese funksies gehad (Matt 6:17; Mark 16:1; Joh 11:2; 12:3; Luk 10:34; Jak 5:14).

Salwing in opdrag van God simboliseer verkiesing, afsondering en voorbereiding vir diens* (1 Sam 10:1), seën en beskerming (Hab 3:13; Ps 133:2). Dit verleen gesag aan die gesalfde om ’n taak uit te voer. Deur die salwing het mense* hulle verbintenis en onderdanigheid aan die persoon wat gesalf is, bevestig. God verbind Homself, soos in die geval van Dawid*, deur die salwing aan die koningskap van Dawid. Die Gees* word as die toerustende krag saam met salwing geskenk (1 Sam 16:13; sien ook Ps 51:13).

Jesus is God se Gesalfde (Messias*) (Joh 1:41; 4:25; Hand 10:38; Heb 1:9) vir ’n bepaalde taak (Luk 4:18). As gesalfdes het gelowiges* die Gees wat ons in die waarheid* lei (1 Joh 2:20, 27).

 

Sidebar