SALIGSPREKINGS

SALIGSPREKINGS. In die Ou Testament* kom saligsprekings veral in die wysheidsliteratuur* in die derde persoon voor, en dan nie in reekse nie, maar in dubbelspreuke (Ps 84:4 en volgende verse; 119:1 en volgende verse; 128:1 en volgende verse). Reekse ellende-aankondigings* kom wel voor (sien Jes 5:8-23). In profeties-apokaliptiese literatuur kom tweede persoon-aankondigings voor – die getroues word direk bemoedig en verseker dat hulle van die laaste oordeel* gered sal word.

In die Nuwe Testament* is daar 44 seënspreuke wat dikwels in reekse voorkom: Matt 5:3-10; Luk 6:20-22; Rom 4:7-8; en in Luk 11:27-28 en 12:35-48. Dit is ’n tipiese vorm waarin die heil* en vreugde aangekondig word wat deur Jesus* Christus* se koms ingelui word. Die saligsprekings (Matt 5:3-12) speel ’n belangrike rol in die Bergrede* (Matt 5–7). Dit is die genade-aankondiging wat Jesus se onderrig in die res van die Bergrede inlui. In aansluiting by Jes 61 moet die saligsprekings gesien word as ’n aankondiging van seën* en nie as ’n eis tot ’n bepaalde gedragspatroon nie.

Die verrassende is dat hierdie aankondiging van seën gegee word aan mense van wie dit destyds (en vandag ook) nie verwag sou word nie. Hierdie paradoksale aanduiding van wie die geseëndes is, is verontrustend, maar tog ook bemoedigend. Dit is onmiskenbaar Jesus se genade-aanbod wat dadelik verwerping en vervolging in die vooruitsig stel vir hulle wat hierdie evangelie* aanvaar. Deur sy onderwysing van die Bergrede so te begin, wys Matteus* weer na Jesus as die vervuller van die Ou-Testamentiese beloftes*. In Matteus is daar nege saligsprekings (byna almal in die derde persoon) en in Lukas* net vier saligsprekings (in die tweede persoon meervoud), en dan ook die vier ellende-uitsprake wat in Matteus ontbreek. Verder verskil die bewoording en die orde van die tweede en derde parallelle uitsprake in Matt 5:4, 6 wanneer dit met Luk 6:21 vergelyk word.

Vir verdere lees: CW Burger, BA Müller, DJ Smit (red) 1990. Riglyne vir prediking oor die Bergrede. Kaapstad: NGKU.

 

Sidebar