SALOMÉ

SALOMÉ is die Griekse* vorm van die Hebreeuse* Sjaloom-Tsion – die vrede/heil van Sion*. Dit was ’n populêre naam ná die vreedsame regering van die Hasmonese koningin Salomé-Aleksandra (76–67 vC).

  1. Een van Jesus* se vroulike dissipels* wat Hom in Galilea* gevolg en finansieel ondersteun het. Salomé was selfstandig, want haar naam word nie gekoppel aan die naam van ’n manspersoon nie. Sy aanskou saam met Maria*4 Magdalena en Maria*3, die ma van Jakobus*, Jesus se kruisdood (Mark 15:40-41). Hulle kry die graf oop en moet die boodskap van Jesus se opstanding* verkondig. Uit vrees swyg hulle egter (Mark 16:1-8).

Die ma van die seuns van Sebedeüs* (Matt 27:56) en Salomé (Mark 15:40) word dikwels met mekaar verwar. Hulle is verskillende persone, want die skrywer van die Matteus*-Evangelie het die Markus*-Evangelie geken en het verkies om nie die naam Salomé te gebruik nie.

  1. Die tweede vrou wat vermeld moet word, staan ook bekend as “Salomé van die sewe sluiers”. Sy word egter nie in die Bybel* by dié naam genoem nie. Sy was Herodias* se dogter wat voor haar stiefpa Herodes*4 Antipas gedans het, waarna sy Johannes die Doper* se kop as beloning gevra het (Mark 6:17-28; Matt 14:6-11).

 

Sidebar